“The middle part of Maine … is divided by rivers and harbors with cozy names that sound like brands of bubble bath or places boats sink in folks songs.” − Linda Holmes
Eendag sal ek nog na Hondeblaf toe gaan. Afdraai van die hoofpad, die grondpad aandurf en soek na die plekkie waarvan die naam Hondeblaf is.
Ek wil gaan kyk wie en wat die hond(e) is of was, en hoekom hulle geblaf het. Was dit in die tyd toe leeus los rondgeloop het, voor ons voorouers al die arme sogenaamde ondiere uitgemoor het?
Sal daar mense bly, met huisies onder bloekombome of peperbome? Of sal dit verlate wees? Vandaar sal ek na Leeupan gaan, en dieselfde doen. Na die leeus se spoke soek.
Anderdag, toe ons weer die pad vat, ry ons verby Oorbietjiesfontein. Is dit vernoem na die bokkie? Was daar baie van hulle? Ek het baie onbeantwoorde vrae terwyl die pleknaamborde verbyskiet. Dominionville, Lekkerkryvlei, Opraap en dan Ratzegaaiskraal. Wat ‘n interessante naam, en wat beteken dit?
Wat van die plaasnaam Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein? Dit is mos ‘n hele jagverhaal in een asemteug. Die stroopsoet belofte van Mooinooi, of flankeer by Ogies, en die lekkerte by Lekkersing?
Ons voorsate het gely ook. Moed opgegee by Putsonderwater.
Die naam skilder ‘n prentjie van ‘n boer wat sy hoed in die stof gooi. Net so eerlik is Hotazel. Die legende wil hê dat die landmeters destyds gekla het dit is “hot as hell”, en so het die Kuruman-omgewing sy eie stukkie hel gekry.
As jy lank genoeg na ‘n landkaart staar, besef jy ons voorsate het nie net plekke en plase benoem nie; hulle het stories vertel. Daar is min lande in die wêreld waar plekname soos prosa of gedigte klink.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.





