Sewe dae …
Dít is hoe lank Alexander Kannemeyer, die waarnemende direkteur van korporatiewe dienste en senior menslikehulpbronnebeampte van die Stellenbosch-munisipaliteit, het om rede te verskaf hoekom hy nie uit sy amp geskors moet word nie.
Die regerende DA, sowel as GOOD, het Vrydag 5 September tydens ‘n noodvergadering van die plaaslike munisipale raad mosies ter tafel gelê, wat onder meer vra dat ‘n onafhaklike ondersoek ingestel word nadat ‘n video vandeesweek die ronde op sosiale media gedoen het waarin Kannemeyer glo rassistiese uitlatings tydens ‘n 2023-vergadering oor ‘n senior beampte se aanstelling [inj die munisipaliteit] maak.

In die video het Kannemeyer aangevoer in die meeste gevalle is dit wit mans wat die beste vaar tydens die aansoekproses en dus word die meeste senior posisies deur wit mans gevul. Kannemeyer het sy kommer oor hierdie verskynsels uitgespreek en verskeie ander uitlatings gemaak.
Terwyl die plaaslike ANC aanvoer die inhoud van die video moenie buite konteks gesien word nie, meen die ander politieke partye, burgerlike organisasies, Solidariteit en lede van die publiek Kannemeyer se uitlatings kom neer op rassime.
Die burgemeester, Jeremy Fasser, het aangevoer aanstellings gegrond op ras, geslag of enige ander eienskap is ongrondwetlik en sal nie deur die Stellenbosch-munisipaliteit geduld word nie.
‘n Gewysigde mosie is dus aan die raad voorgelê wat onder meer eis dat Kannemeyer binne sewe dae skriftelik moet verduidelik hoekom hy nie geskors moet word nie; dat ‘n onafhanklike kundige aangestel word om die saak te ondersoek; dat ‘n onafhanklike ondersoek na Kannemeyer se opdrag van stapel gestuur word; en dat die ondersoekverslag binne sewe dae nadat die ondersoek voltooi is, aan die raad voorgelê word.
Die ANC het egter aangevoer die munisipale raad het geen insae in administratiewe sake nie. “Hierdie is ‘n sensitiewe saak. Daar is wetlike voorskrifte vir interne administratiewe sake en dit is uiteindelik in die munisipale bestuurder se hande. Hierdie raad het geen seggenskap oor die administrasie se doen en late nie. Wat nou gebeur, is slegs ‘n politieke foefie,” het Monwabisi Rataza van die ANC aangevoer.
Mervin William, ‘n senior regsadviseur vir die munisipaliteit, het op sy beurt die raad teen die instelling van die DA se mosie gewaarsku , aangesien Kannemeyer in ‘n administratiewe amp is, wat nie deur die raad goedgekeur is nie, maar eerder [deur] die munisipale bestuurder.
Die DA het egter aangevoer gesien in die lig van die senioriteit van Kannemeyer se amp, het die raad ‘n verantwoordelikheid om in te tree.
GOOD se mosie was onsuksesvol, maar die raad het uiteindelik die DA se mosie met 27 teenoor nege stemme goedgekeur.






You must be logged in to post a comment.