KIMBERLEY – Voor ‘n energieke skare in die Suzuki-stadion in Kimberley het die Poubloues die Westelike Provinsie (WP) ‘n behoorlike streep getrek met ‘n sege van 47 − 17 in die derde ronde van vanjaar se Curriebeker-reeks.
Hierdeur het die Poubloues, wat op Vrydag 8 Augustus in hul pienk truie gespeel het, boonop hul mikpunt behaal om ‘n agtste oorwinning agtereenvolgens oor WP te behaal.
Die Griekwas het van die begin van die wedstryd doelgerigtheid getoon, en vroeë drieë het WP onder druk geplaas. Griekwas het sewe keer die doellyn oorgesteek, met ses suksesvolle doelskoppe deur George Whitehead.
Die Kwaste se aanval word as klinies beskryf, met elke geleentheid benut. Die wisselwerking tussen agter- en voorspelers het WP aan die raai gehou.
- Met Griekwas se oorwinning Vrydag is hulle nog ‘n trappie hoër op die punteleer: Hulle is nou in die sesde plek met tien punte, terwyl WP na agtste plek afgeskuif het.
- Die Sharks, wat eerskomende Vrydag vir die Griekwas tande wys, is nou in die sewende plek, met een punt.
Poubloues speel in pienk truie
Verlede week se wedstryd het die doelwit gehad om bewustheid oor KANSA-bedrywighede te bevorder, daarom het die Griekwas in pienk truie gespeel. Hulle het die veld deur ‘n erewag van kankerlyers en -oorwinnaars betree.
Suzuki Suid-Afrika het kontantpryse geborg vir leerlinge van plaaslike skole wat in massa opdaag. Vrydag het leerlinge van die Elizabeth Conradie-skool, ‘n skool vir leerlinge met fisieke gestremdhede, hul ondersteuning met baniere, ballonne en geesdriftigheid getoon. Hiervoor het hulle die kontantprys ontvang, met leerlinge van Kimberley Boys’ High School wat ‘n tweede plek ingeneem het.
- Besoek die Facebook-blad Griquas − G.W.R.U. vir meer inligting oor Vrydag 15 Augustus se wedstryd, wat om 15:00 in die Suzuki-stadion plaasvind.
- Skole staan weer ‘n kans om ‘n kontantprys vir die beste ondersteuning te wen.








You must be logged in to post a comment.