Inwoners en diereliefhebbers in en om die omgewing van die Swartland- en Bergrivier-streek het hulle onlangs tot sosiale media gewend en hul misnoeë teenoor die betrokke munisipaliteite uitgespreek nadat die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging se dienste in die gebiede opgeskort is.
Dit volg nadat die DBV in ‘n plasing op sosiale media aangekondig het finansiering en skenkings van die munisipaliteite word gestaak. “Die Swartland- en Weskus-DBV kondig met hartseer die opskorting van alle mobiele kliniek- en inspekteursdienste in die Swartland se munisipale gebied aan, asook die opskorting van mobiele kliniekdienste in die Bergrivier se munisiaple gebied,” lui die verklaring, wat sedert verlede naweek die ronde doen.
Die plasing lui verder dat die Swartland-munisipaliteit vir jare saam met die DBV gewerk het om belangrike dierewelsynsdienste, insluitend die hantering van dieremishandelingklagtes, inspeksies en die verskaffing van veeartsenydienste deur hul mobiele kliniek te verseker. Mobiele kliniekdienste het oor die jare in die Berg- rivier-gebied uitgebrei om primêre mediese sorg deur ‘n veearts en ondersteuning aan minderbevoorregte gemeenskappe te bied.
“Ongelukkig is die bedryfskoste wat met hierdie dienste gepaard gaan, soos brandstof, die instandhouding van voertuie en veeartsenydienste (toerusting en personeel) aansienlik hoog. Sonder finansiële ondersteuning van die munisipaliteite is dit nie langer volhoubaar om hierdie dienste in genoemde gebiede voort te sit nie.”
Die DBV sê verder hoewel hy weet hoe belangrik die dienste is, is die besluit nie ligtelik geneem nie.
Die Swartland-munisipaliteit het in reaksie op die DBV se plasing in ‘n verklaring van hul eie die feite met betrekking tot nie-regeringsorganisasies en organisasies sonder winsbejag, soos die DBV, duidelik gestel.
“Die nasionale tesourie het ‘n bindende opdrag aan alle munisipaliteite in Suid-Afrika uitgereik waarin bepaal word dat alle skenkings in ruil vir sekere dienste nou as onreëlmatige besteding beskou word. Munisipaliteite moes hul skenkings aan die organisasies hersien en die onreëlmatige besteding vir die betrokke organisasies verklaar. Hierdie opdrag geld ook vir skenkings aan sekere organisasies wat met diere werk,” verduidelik die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz.
Die nasionale tesourie stel dit duidelik dat munisipaliteite nie langer skenkings in ruil vir dienste mag gee nie, maar eerder ‘n formele tenderprosedure moet volg om ‘n diensverskaffer vir die lewering van die vereiste dienste aan te stel. Die Swartland-munisipaliteit is tans besig om ‘n tussentydse oplossing te ondersoek totdat ‘n diensverskaffer ingevolge die wetgewing aangestel kan word.
“Enige suksesvolle organisasie sonder winsbejag of nie-regering-organisasie wat wil aansoek doen, moet op die sentrale verskafferdatabasis geregistreer wees en aan SARS-voorskrifte voldoen. Dit is belangrik om daarop te let dat die voorskrifte en die munisipaliteit se nakoming daarvan deur die ouditeur-generaal gebruik word as deel van die jaarlikse oudit van munisipaliteite.”
Intussen gaan dienste in sommige dele van die Weskus voort danksy die DBV-tak in Vredenburg se bedryfskostes wat steeds deur die finansiële bydrae van die Saldanhabaai-munisipaliteit gedek word. “As gevolg hiervan word al ons inspekteurs-hulpbronne nou op dienslewering in die Saldanhabaai- munisipale gebied gefokus,” voeg die DBV by.
Navraag aan Louise van Zyl, die bestuurder by die DBV, oor die vraag of finasiering reeds gestaak is, is bevestig. Sy kon nie in hierdie stadium op die pad vorentoe reageer nie, maar het bygevoeg dat die DBV na verwagting vandag met die Swartland-munisipaliteit gaan vergader om meer inligting oor die tenderprosedure en wat die toekoms inhou, te bekom.




