Hirome Shigeaki is die wenner van Die Brug se tweede seisoen. Foto: DSTV

Hirome Shigeaki, ‘n boorling van Worcester, is gisteraand velede week aangekondig as die wenner van die kykNet-werklikheidsreeks, Die Brug, se tweede seisoen.

In dié reeks het twee spanne meegeding om eerste ‘n brug met die hand te bou om by ‘n skatkis op ‘n eiland uit te kom. Dié skatkis was gevul met ‘n allemintige R1 mijoen. Die spel was vol onverwagte kinkels en soms onaangename draaie wat die spelers moes baasraak. Dikwels moes daar gekies word tussen hul eie voordeel en dié van hul span, met die totale prysgeld wat al minder word.

Die reeks het afgespeel in die Outeniekwaberge aan die oewer van die Tuinroete-dam.

Shigeaki het besluit om die skatkis van R720 000 met sy spanmaats te deel en het uiteindelik met R480 000 huis toe gegaan.

Die 28-jarige Shigeaki, wat se ma ‘n bruin vrou was en sy pa ‘n Japanees, sê dat sy kinderjare moeilik was en sy deelname aan die Brug baie gedoen het om sy selfvertroue te bou.

Hy vertel meer oor homself en sy ervaring op die reeks:

Ek is ’n gekwalifiseerde arbeidsterapeut en werk tans by ’n regerings-psigiatriese hospitaal in Kaapstad. Buiten my werk in die publieke sektor, bied ek ook privaat ondersteuningsgroepe aan — iets wat my baie na aan die hart lê, want ek weet eerstehands hoe belangrik dit is om gesien en ondersteun te word.

Ek het grootgeword in Worcester van ongeveer vyf- of sesjarige ouderdom af. My kinderjare was nie maklik nie — dit was vol onsekerheid, verwerping, seer en pyn. Ek was in pleegsorg by ses verskillende families en vir lank het ek nie regtig geweet wat stabiliteit of liefde beteken nie. Maar toe ek in graad 10 was, het my lewenspad ’n ongelooflike draai gemaak toe een van my onderwysers my wettig aangeneem het. Daardie gebaar het vir my gewys dat familie nie altyd bloed is nie — soms is dit ’n keuse van liefde.

Ek is ’n oud-leerling van die Oefenskool en Hoërskool Breërivier en ek is trots op waar ek vandaan kom. Ek besoek nog gereeld Worcester om my ouers, Caylin en Denver Boks, familie en vriende te sien. Daar’s iets besonders aan die dorp: die berge, die natuur, en die mense — Worcester-mense is rêrig lekker mense. Ek noem myself altyd met trots ’n “Woe Woe-kind”… en nou dalk selfs die Worcester Wenner!

Hoekom het jy besluit om aan Die Brug deel te neem?

Ek het van kleintyd af gedroom om aan ‘n program soos Survivor deel te neem. Ek het altyd geweet daar’s ’n deel van my wat só iets wil aanpak, iets rou en regtig. Deur Die Brug het ek daardie droom ‘n werklikheid gemaak, en in baie opsigte het ek ook deelgeneem om my innerlike kind te eer — die kind wat al baie moes deurmaak. Ek wou hom wys: jy’t dit gemaak, jy’s dapper, en jy verdien om hier te wees. Ek het gevoel ek’s gereed vir iets wat my nie net fisiek nie, maar ook emosioneel en geestelik gaan uitdaag. Ek wou sien wat oorbly van ’n mens as jy al die gemak en bekende strukture wegvat — en dan kyk of daar steeds lig en geloof oorbly.

Hirome Shigeaki. Foto: DSTV
Hirome Shigeaki, Worcester se wenner van Die Brug.. Foto: DSTV

Wat was vir jou die uitdagendste deel van die spel?

Sonder twyfel die onvoorspelbaarheid. Jy kan beplan, strategieë uitdink, mense probeer lees… maar dan gebeur daar iets wat alles omkeer. Jy’t geen beheer nie. En om in so ’n omgewing jou kalmte te behou en steeds jou hart oop te hou vir ander mense — dis ‘n uitdaging. Maar ook ‘n voorreg. Ek het in die spel ingestap sonder n idee oor hoe om n brug te bou, ek het gesukkel met die toue. Ek dink ek het meer toue in my kop gemaak as op die vlotte. Die groter uitdaging was was intern: daai stemme in my kop wat gevra het of ek goed genoeg is en of ek werklik genoeg bydra? Somminge dae is jou grootste kompetisie nie n ander speler nie, dis jou eie gedagtes.

Sou jy sê om deel te neem het jou waarhede oor jouself geleer?

Ja, beslis. Ek het besef ek is veerkragtiger as wat ek soms glo. Ek het ook gesien hoe belangrik dit is om mens te bly in moeilike omstandighede: om te kies vir sagtheid bo verdedigingsmeganismes. Ek het geleer ek is waardig, net soos ek is. Jy hoef nie die sterkste, die slimste of die mees indrukwekkende persoon te wees om gesien te word en betekenisvol te wees nie. Jy is genoeg net soos jy is. Die grootste geskenk wat jy vir ander kan wees, is om net werklik jouself te wees.

Ek het ook besef dat my verlede my nie definieer nie, maar my keuses doen. Die ervaring op Die Brug het my selfbeeld en vertroue in my eie vermoëns versterk. Ek het geleer om myself nie te verklein nie — jy kan steeds nederig bly en jou heel beste gee. Dit het my verander.

Ek glo as jy dié spel speel en nie verander het of iets geleer het nie, het jy dalk nie ten volle deelgeneem nie. Ek is nie meer bang vir my eie lig en potensiaal nie. Hierdie reis het my geleer om my krag te omarm en voluit te glo in wat ek kan bereik.

Wat is jou planne met jou wengeld?

Ek’s nog nie heeltemal seker nie. Dis ’n gesprek tussen my en God — ek wil reg doen met dit wat aan my toevertrou is. Ek oorweeg dit om ’n deposito op ’n woonstel of huis te sit. Iets wat stabiliteit en ’n gevoel van blywende grond onder my voete bring. Maar bo alles, wil ek seker maak ek doen iets daarmee wat betekenis het — nie net vir my nie, maar ook vir ander.

Ek wil graag aan die lesers sê: jou verlede bepaal nie wie jy is nie, jou keuses doen. Jy is nie wat ander van jou sê nie; jy is wie God jou gemaak het om te wees. Selfs al begin jy agter, onder, of uitgesluit, kan jy steeds opstaan — met genade, integriteit en geloof.

Die belangrikste brug wat jy ooit sal bou, is dié binne-in jouself — tussen jou pyn en jou doel, tussen wie jy was en wie jy besig is om te word. En soms lê die ware oorwinning nie in die prys nie… maar in die heling van daardie stukkies in jou wat eens ongesien gevoel het. Jy hoef nie die hardste stem of die mees opvallende teenwoordigheid te hê om raakgesien te word nie. Jy hoef nie voor te gee om aanvaar te word nie. Net wees jouself — werklik, eerlik en met moed — dis genoeg. Bou jou brug. Stap daaroor. En weet: jy stap nie alleen nie. God is met jou! Staan op, staan sterk, lig jou ken en ken jou Lig!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article