Presies twee jaar gelede, op Maandag 19 Februarie 2024, het Kelly Smith (toe 33 jaar oud) haar sesjarige dogter Joshlin Smith by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Wat as ’n gewone Maandag begin het, het vinnig in ’n nasionale tragedie ontaard.

Vandag, twee jaar later is Joshlin steeds nie gevind nie, maar ma en twee medebeskuldigdes is in 2025 reeds skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel.
Die polisie en die gemeenskap se soektogte en ondersoeke het die afgelope twee jaar voortgeduur, maar daar is niks nuwe getuienis bekend gemaak nie.
Hier volg ʼn tydlyn van hoe die saak wat die land en die wêreld aangegryp het, verloop het.
19 Februarie 2024
- Die sesjarige Joshlin Smith, graadeentjie by Diazville Primêr, verdwyn uit die Middelpos- informele nedersetting by Saldanha.
- Haar ma, Kelly Smith, meld haar by die Saldanha-polisiekantoor aan as vermis. ʼn Vermiste-kind-plakkaat word op sosiale media versprei waarin aangedui word dat Joshlin tydens haar verdwyning’n ligblou hempie en denim-kortbroek gedra het. Vals gerugte word versprei dat sy die middag saam met ’n seun naby die Diazville-kliniek gesien is.
- Kelly en haar kêrel, Jacquen “Boeta” Appollis, sê Joshlin was dié oggend in Boeta se sorg.
20 Februarie 2024
- Gemeenskap begin soek: strate, hokkies, huise, duine, strand en veld.
- Snuffelhonde word gebruik, maar kry geen spoor van Joshlin nie.
- Politie ondervra Kelly, Boeta, Steveno van Rhyn en buurvrou Renze Lombaard; almal word later aangekla van ontvoering en mensehandel.
21 Februarie 2024
- Politieke partye en TikTokkers begin regstreekse sosiale media uitsendings oor die soektog.
25 Februarie 2024
- Kerkdiens vir Joshlin gehou. Nasionale en internasionale aandag.
26-29 Februarie
- Polisie verduidelik dat alle leidrade opgevolg moet word, al is dit vals.
- Kelly verskyn in regstreekse Spur-uitsending met haar kinders.
- Kelly en Boeta slaag leuenverklikkertoets.
- ʼn Engelagtige wolk verskyn bo Middelpos.
- Versterkings daag in Saldanha op om in die soektog te help soos verskeie spesialis-eenhede van Stad Kaapstad.
- Polisiehelikopter betrek by soektog.
Die hele Maartmaand van 2024 word gekenmerk deur gerugte, die polisie wat dit opvolg, maar geen leidrade wat verder gekry word nie.

- Middelpos-man “Ayanda” dien ʼn klag van ontvoering in nadat hy deur ’n groep mans op ’n bakkie geboender is.
- Vals gerug: Bebloede kinderklere word in Middelpos gevind; gestuur vir forensiese toetse wat aandui dat dit nie Joshlin sin is nie. Die polisie word ontbied na ʼn rioolgat in Noorddamstraat, maar kry geen leidraad nie.
- Die polisie vra publiek om nie misleidende sosialemedia-inligting uit te reik nie.
- Die provinsiale kantoor vir ernstige geweldsmisdrywe word ontplooi.
- 800 geregsdienaars deursoek die Diazville-Middelpos-gebied.
7 Maart 2024
- Kelly, Boeta, Steveno van Rhyn en ʼn buurvrou verskyn in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Daar word beweer dat Joshlin aan ’n sangoma verkoop is vir R20 000.
13 Maart 2024
- Aanklagte word teen die buurvrou laat vaar; Kelly, Boeta en Steveno dui aan hulle gaan nie om borgtog aansoek doen nie.
18 Maart 2024
- Lorentia “Renze” Lombaard (32) verskyn in die Vredenburg-landdroshof vir ontvoering- en mensehandelaanklagte.
- In Louwville maak kinders alarm oor twee mans wat ’n “swaar swartsak” dra saam met ’n tradisionele geneesheer; polisie-soektog lewer niks op nie.
25 Maart 2024
- Lombaard verlaat die Vredenburg-landdroshof onder swaar polisie-bewaking nadat sy borgtog laat vaar het.
14 April 2024
- Bheki Cele, nasionale minister van polisie, noem dat soektog nou internasionale aandag geniet.
17 April 2024
- Polisietyd en hulpbronne ingeroep na “beendere”-wenk; niks gevind nie.
13 Mei 2024
- Lombaard se saak word by die ander beskuldigdes gevoeg.
- Lombaard verskyn vir die eerste keer saam met Kelly, Boeta en Steveno in die hof.
15 Julie 2024
- Die vier beskuldigdes verskyn weer in die Vredenburg-landdroshof; saak uitgestel vir die staat om laaste los drade te versamel.
16 September 2024
- Beskuldigdes weer in hof, Kelly wys die eerste keer emosie, huil in hof.
- Akte van beskuldiging word voorsien.
21 Oktober 2024
- Aanklagte teen Lombaard laat vaar; sy gaan vir staat getuig.
- Dit raak bekend dat Kelly glo al in Augustus 2023 gesê het, sy beplan om haar kinders te verkoop; en dat sy saam met Joshlin in wit motor met vreemdelinge geklim het op die dag van die kind se verdwyning.

21 Januarie 2025
- Kelly verskyn alleen in die Wes-Kaap hooggeregshof waar die voorverhoor uitgestel word. Deurmekaarspul met vervoer van die ander twee beskuldigdes.
28 Februarie 2025
- Die drie beskuldigdes verskyn op aanklagte van ontvoering en mensehandel.
- Staat beweer hulle het Joshlin aan vreemdelinge in wit motor verkoop.
- Dit word bekend gemaak dat die verhoor na die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, skuif.
5 Maart 2024
- Die verhoor in die hooggeregshofsaak teen Kelly (Raquel) Smith, Boeta (Jacquen) Appolis en Steveno van Rhyn begin. Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit.
Hofverrigtinge in Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, begin op Maandag 3 Maart 2025, in wat ʼn lang uitgerekte hofsaak word. Regter Nathan Erasmus is die voorsittende beampte met die staat se span, adv. Aradhana Heeramun en adv. Zelda Swanepoel.
Tydens die bykans twee maande lange verhoor lewer die kruisondervraging van staatsgetuies en ander getuies, min nuwe inligting oor Joshlin op.

Belangrike punte:
- Die beskuldiges ontken skuld.
- ʼn Duidelike prentjie van eerste ure van verdwyning ontwikkel. Kelly het verskeie weergawes van haar storie aan verskillende getuies vertel.
- Kelly kon nie’n enkele foto van Joshlin die aand waarop sy as vermis aangemeld is, aan die polisie gee nie.
- Donderdag 6 Maart: Regter Nathan Erasmus gelas ʼn terplaatse-ondersoek in Middelpos, Saldanha. Regslui probeer beter die omgewing en omstandighede tydens Joshlin se verdwyning beter verstaan. Polisie moes omstanders beheer wat by Kelly Smith wou uitvind waar Joshlin is.
- ʼn Tussenverhoor hou die verrigtinge duur langer as ʼn week. Boeta en Steveno beweer hulle is aangerand en gemartel deur die polisie. Erasmus besluit om nié hulle getuienis te aanvaar nie. Dit was die enigste keer wat enige van die beskuldigdes in die hof getuig het.
- Vrydag 2 Mei 2025: Erasmus bevind Kelly, Boeta en Steveno op die aanklagte van ontvoering en mensehandel.
- Woensdag 29 Mei 2025: Tydens vonnisoplegging, spreek Erasmus die beskuldigdes direk aan, en gee hulle lewenslange tronkstraf vir mensehandel en tien jaar op aanklag van ontvoering van Joshlin Smith.
- 13 Augustus 2025: Die beskuldigdes se aansoek om verlof tot appélword van die hand gewys.
- Renz Lombaard word vrygespreek van vervolging vir haar aandeel in Joshlin Smith se verdwyning omdat sy staatsgetuie geword het.
- Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom regter Nathan Erasmus se uitsprake.
LEES OOK: Joshlin-saak: Kelly en kie gaan lank sit





You must be logged in to post a comment.