Vrywilligers het die naweek kos verskaf aan die Zimbabiewe vlugtelinge.
Vrywilligers het die naweek kos verskaf aan die Zimbabiewe vlugtelinge.
BloemNews Express

Zimbabwiese vlugtelinge kry warm kos in Bloemfontein op roete noord


BLOEMFONTEIN – In ‘n gebaar van meelewing en omgee het mense van verskillende kerke oor Bloemfontein heen die naweek op kort kennisgewing ingespring en duisende vlugtelinge gevoed.

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG kerk se algemene sinode, het Vrydag om 16:00 ‘n oproep ontvang wat ‘n groot netwerk van ondersteuning in werking gestel het.

Die eerste busse vol vlugtelinge het Saterdag 4 Julie in Bloemfontein kos van vrywilligers van kerke in die stad ontvang. VIDEO: Verskaf

Busse vol vlugtelinge – meestal burgers van Zimbabwe en Malawi – is die naweek van Kaapstad na ‘n tydelike kamp in Musina vervoer. Ds Riaan de Villiers van De Groote Kerk in Kaapstad het kontak gemaak met die Vrystaters sodat die busse vol vlugtelinge ‘n ete kon kry op hul lang tog noorde toe.

Altesaam 1 786 vlugtelinge is sedert Vrydag van die Epping Repatriasiesentrum in Kaapstad op 26 busse gelaai. Die vlugtelinge het sedert Sondag 28 Junie hier gewag vir repatriasie na hul tuislande ná die optogte teen ongedokumenteerde migrante wat oor Suid-Afrika heen gehou is.

Vlugtelinge rek bene op hul tog na Musina.
Vlugtelinge rek bene op hul tog na Musina. FOTO: Verskaf

Andreas Nieuwoudt van die welsynsorganisasie Torings van Hoop in Bloemfontein, het die plaaslike projek gekoördineer. “Dit was werklik ‘n spanpoging met nie net NG kerke, maar ook lidmate van die Anglikaanse kerk en Methodiste kerke in Bloemfontein wat óf voorrade óf geld geskenk het,” sê hy.

Die busse het Saterdag en Sondag tot laataand by die Shell Ultra City langs die N1 stilgehou waar vrywilligers hulle van kos voorsien het.

Nieuwoudt sê alles het blitsvinnig gebeur, maar ons kon vir die vlugtelinge warm kos, vrugte en iets te drinke gee. “Ons het vir elke vlugteling ‘n beker sop, ‘n bottel water, vrugte en ‘n broodjie gegee. Ons kon ook mammas met babas help met doeke,” sê Nieuwoudt.

“Ons het van Torings van Hoop se fondse, maar ook kontant van De Groote Kerk en ander kontant-skenkings gebruik om voorrade te koop. Van oral af het ons skenkings gekry van vrugte en warm klere wat ons vir die mense en kinders op die busse kon gee.”

Hy sê dit was ‘n mooi gebaar om te sien hoe mense hande vat om ander te help. Selfs gemeentelede wat deel vorm van Torings van Hoop se daaglikse voedingsprojekte, het ingespring en gehelp om kos te maak vir die vlugtelinge.

Ook gemeentelede van die NG kerke Bainsvlei, Bloemheuwel en Pellissier het gehelp. “Sonder die reuse-hulp van vrywillegers van die NG kerk Berg-en-Dal sou hierdie poging ook nie moontlik gewees het nie,” sê Nieuwoudt dankbaar.

Teen Maandag was daar nog sowat 300 vlugtelinge in Epping wat gewag het op vervoer na hul tuislande.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article