Hierdie naweek is ’n historiese gebeurtenis vir die African Methodist Episcopal (AME) Kerk Zion-gemeente op Worcester wanneer dié gemeente sy vyftigste herdenking van aanbidding in die huidige kerkgebou vier.
Dié kerk is in 1899 deur eerwaarde Zimri en ’n handvol van die lede gestig. Hy is opgevolg deur eerw. Daniel Peter Gordon, wat ’n winsgewende loopbaan as onderwyser prysgegee het om by die kerk aan te sluit.
Die eerste AME-kerk op Worcester was in ’n ou asynwinkel in Napierstraat geleë, waar sowat 20 gemeentelede op ’n gereelde basis aanbid het.
Onder baie moeilike omstandighede en met min geld kon Gordon en die gemeente ’n kerk, ’n pastorie en ’n skool op die perseel in Napierstraat bou.
Eerw D.P. Gordon was die leraar van Zion AME-kerk tot 1950 en in 1948 is sy seun, Easter Michael Gordon, aangestel as medeleraar van die gemeente. Laasgenoemde het later een van die mees dinamiese leiers in die AME-kerk geword. Eerw E.M. Gordon was die leraar van Zion van 1948 tot 1953.
Die gemeente is daarna onder leiding van eerw. David C. West vanaf 1954 tot 1960 bedien en in 1961 is Reuben E. Gordon, die tweede seun van wyle eerw. D.P. Gordon, aangestel as leraar van Zion.
As gevolg van die Groepsgebiedewet van 1950 moes die gemeente die kerk in Napierstraat (waar 1Up groothandelaars vandag is) verlaat, omdat dit in die destydse sogenaamde “wit” gebied geleë was. Die kerk het ongeveer R17 000 ontvang vir die geboue wat die kerkgebou, die kerksaal, die skool en die pastorie ingesluit het.
Selfs die name van strate is geraak as gevolg van die destydse apartheidswette. ’n Stuk land is toe gekoop in dieselfde straat, maar omdat dit in die sogenaamde “kleurling”-gebied was, is hierdie straat vernoem na Le Seuerstraat.
Die gemeente en die leraar het letterlik van die een kerkgebou na die ander geloop terwyl hul gesange gesing het tot eer van God.
Dié gebou is 1966 opgerig in geloof onder leiding van eerw. Reuben Gordon. Die man verantwoordelik vir die totale uitleg en konstruksie was broer Boetie Schroeder, ’n gemeentelid.
Die gemeentelede en vriende van die kerk het boumateriaal geskenk. Ander het finansiële hulp verleen vir die oprig van die gebou wat vandag as ’n monument dien vir die lojale mans en vroue se arbeid. Ná twee jaar en drie maande se swaarkry en stryd, kon hulle die kerk voltooi en inwy ter verheerliking aan God en aan almal wat hom liefhet.
Op die perseel in Napierstraat is later toe ’n groot winkelsentrum gebou, maar dit is reeds meer as 30 jaar vakant as gevolg van niewinsgewende besigheid.
Eerw. John Lakay is toe in 1971 aangestel om die Siongemeente te bedien tot 1974. In 1974 is eerw. dr. Gordon Daniel van Stavel, die kleinseun van eerw. D.P. Gordon aangestel om Zion te bedien. Dr. Van Stavel het Sion vir 30 jaar bedien, wat hom die langste dienende leraar van die gemeente maak.
In daardie stadium was daar nog ’n uitstaande verband op die kerkgebou, maar met die dinamiese leierskap van eerw. dr. Van Stavel en sy vrou, Rita, is die uitstaande skuld ten volle betaal binne twee jaar. Dr. van Stavel het ook die kerk uitgebrei met twee aangrensende vleuels in die huidige kerksaalgebou en is ’n voedingskema in 2009 begin wat vandag nog aan 250 kinders kos gee.
In 2004, by die jaarlikse konferensie, is eerw. Gregory West as leraar van die Zion-gemeente, wat die kerk tot 2008 bedien het, aangestel. Hy was ook verantwoordelik vir die nuwe toilette en plaveisel by die huidige kerkterrein. Hy het ook die saal se kombuis ingerig.
In 2008 is eerw. Paul J. Messiah aangestel as leraar tot 2011. Onder sy bekwame leiding is die opgradering van die kerksaal se dak gedoen. Die huidige leraar, eerw. Keith L.B Links, is in 2011 as leier van die gemeente aangestel. Die kerk se aanbidding-ervaring het ’n meer moderne era betree onder leiding van eerw. Links, met die installering van nuwe media- en musiektoerusting, asook die inrig van die gebedkamer, wat voorheen ‘n babakamer was, en die koorkamer. Eerw. Links het ook ’n groot rol gespeel in die opgradering van die D.P. Gordon-saal en die bou van die nuwe administrasiegebou wat tans opgerig word.





