Young Hamiltons het verlede Saterdag na Rawsonville gereis “om die orde te herstel”.

Hoffiepark was teen 12:30 reeds gepak soos wat Hammies-ondersteuners op Rawsonville United se tuisveld toegesak het om hul span te help. Teen 16:00 was daar nie plek vir ‘n muis nie en was die stadion tot barstens toe vol.

Rawsonville, in sy nuwe uitrusting – van opwarmongshemde en broeke tot truie en sokkies – het eerste bloed geruik en 5-0 voorgeloop, maar die doelskop was links verby. Hierna het Rawsies weer verwoed aangeval en is met ‘n strafskop beloon – kort nadat Hammies se linkervleuel, Ethinique Adams, ook oor die doellyn is. Ambrose Steyn, losskakel, het Rawsies 8-5 laat voorloop. Whalied Heyns, die agsteman, is hierna vir Hammies oor en met Luciano Truter se doelskop was die Blouspan 12-8 voor. Die telling het na 19-8 aangeskuif toe die plaasvervanger-vleuel, Garth Jacobs, ‘n bal onderskep en goed 70  m genael het om onder die pale af te rond, wat deur Truter verdoel is.

Rawsies het nooit bes gegee nie en is kort voor rustyd oor vir ‘n 15-19- agterstand nadat Steyn verdoel het.

Ná rustyd het Rawsonville doelgerig gespeel en is met twee strafskoppe beloon, maar Steyn het met beide pogings pale toe misluk. Heyns het sy tweede drie kort hierna gedruk, maar Truter skop mis en Hammies was 24-15 voor. Hierna het die besoekers na ‘n hoër rat oorgeskakel en die veld vol gespel. Hammies is met ‘n strafskop vir onkantspel beloon. Truter het geen fout gemaak nie en sy span het 27-15 voorgeloop. Briljantheid het hierna ‘n rol gespeel – Garth Jacobs het ‘n bal van die plaasvervanger-senter, Raldon Rooi, ontvang, ‘n lugskop afgestuur wat die bal kort voor die doellyn weer in sy hande laat beland het en hy het oorgeduik om Hammies ná die doelskop 34-15 te laat voorloop. Die kaptein en skrumskakel,Yushwin Hattingh, het ná ‘n aanvallende skrum op Rawsies se doellyn steelkant-om gebreek en onder die pale gedruk om sy span ná die Truter-doelskop 41-15 te laat voorloop. Rawsies het nie gaan lê nie en twee drieë vir ‘n bonuspunt gedruk. Hy kon nie een verdoel nie, met die eindtelling 41-25 waarmee Hammies wraak geneem het ná verlede jaar se fiasko toe Rawsies hom met 49-32 geklop en sodoende sy Top-12-drome verydel het. Die orde is dus herstel.

Hammies B 40-00 gewen en die C-span 34-05. Hammies speel vandag om 15:00 teen Hamlet in die Turlow Marsh- Paasfeestoernooi in Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article