Van links is Diana Murray (Worcester-buurtwag), Vusumzi Mondi (Zweletemba-buurtwag), Antoinette Steyn (burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit), Reagan Allen, Nokuleko Lindi (Zweletemba-buurtwag), Tiana Botes (Worcester-buurtwag) en Mkululeko Mangweni (Zweletemba-buurtwag) by die oorhandiging van hulpmiddels aan die buurtwagte.Foto: Enrico Claassen


Die LUR van die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, Reagan Allen, het Maandag verskeie hulpmiddels aan buurtwagte van Worcester en Zweletemba oorhandig sodat hulle hul stryd teen misdaad meer doeltreffend kan voer.

Toerusting soos noodhulpkissies, flitsligte, fluitjies, glinsterbaadjies, T-hemde, buurtwag-baniere en pette is aan die twee buurtwagte oorhandig.

Allen het aan Standard gesê die buurtwagte, wat uit vrywilligers bestaan, vervul ’n belangrike rol.

Volgens hom is begrotings reeds gedoen om te verseker dat die uitrol van opleidingsprogramme vir buurtwaglede bespoedig word.

Allen sê buurtwagte mag nie die reg in eie hande neem as dit by die bekamping van misdaad kom nie. Hy sê buurtwagte is die polisie se oë en ore om gemeenskapsveiligheid te verseker.

Die LUR het ook groot lof gehad vir die buurtwagte van Worcester en Zweletemba. Volgens hom doen lede van dié buurtwagte baie goeie werk en dit kan gesien word in die afname van veral kontakmisdade asook huisrooftogte.

Allen het gesê vir gemeenskappe om veiliger te wees, behoort die aantal buurtwagte verdriedubbel te word. Hy het ook raadslede aangemoedig om twee keer per week saam met buurtwagte patrolliewerk te doen.

Volgens Allen is hy verheug om te sien dat jong mense sowat 75% van buurtwagte in Worcester en Zweletemba vorm.

Allen sê hy was tydens ’n besoek aan Klawer kort ná die gru-moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk geskok om te verneem dat Klawer geen geakkrediteerde buurtwag en aktiewe gemeenskaps-polisiëringsforum het nie. Volgens hom het hy sy departement opdrag gegee om proaktief te wees met betrekking tot die vorming van ’n buurtwag in Klawer.

Vusumzi Mondi van die Zweletemba-buurtwag het tydens sy spreekbeurt voorgestel dat Allen se departement moet kyk na die moontlikheid vir buurtwagte van verskillende dorpe en distrikte om saam te werk.

Allen het Mondi se voorstel verwelkom en gesê vennootskappe en samewerking is baie belangrik wanneer dit by veiligheid kom.

Die LUR het gesê dit is nodig en belangrik vir alle strukture en veiligheidsbelanghebbendes om saam te werk en georganiseerd te wees omdat misdadigers georganiseerd is.

“Ons moet behoorlike vennootskappe tussen die strukture hê sodat hulle mekaar kan help. Dit sluit in buurtwagte van verskillende dorpe en oor die hele distrik, want ons wil hê daardie spesifieke vennootskappe moet groei sodat positiewe besprekings uit daardie verbintenisse kan vloei.”

Allen het hom ook uitgelaat oor die wysiging van die Wet op Gemeenskapsveiligheid en gesê hy is baie verheug omdat die regering daaraan werk om dié wet te wysig.

Hy het gesê die nuwe wet gaan onder meer die ombudsman in staat stel om sy eie ondersoeke na polisielede, wat nie hul werk reg doen nie, te doen.

Volgens Allen gaan die wet binnekort in die parlement ter tafel gelê word.

Hy het bygevoeg dié wysigings gaan veiligheid in die Wes-Kaap verder versterk.

Mense wat van voorneme is om ’n buurtwag te vorm, kan die buurtwag-hulplyn bel by 021 483 7813 of ’n e-pos na Neighbourhood.Watch@westerncape.gov.za stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article