Worcester Villagers, of Villa, het die afgelope Saterdag (8 November) op sy tuisveld, Bolandpark, seker gemaak dat hy sy plek vir Boland se Top-12-halfeindronde bespreek deur die besoekende Van Rhynsdorp Eagles met 57-5 af te ransel – nadat Villa teen rustyd reeds met 26-5 voor was.

Met hierdie oorwinning het Villa ook seker gemaak dat hy komende Saterdag (15 November) teen die Weskusspan Saldanha te staan kom – en sy bure, Robertson Town, die Wellingtonse span Roses United die stryd moet aansê vir ‘n plek in 22 November se eindstryd, ook in Bolandstadion in Wellington.

Villa se wedstryd is op ‘n somber noot voorafgegaan toe sy gewilde kaptein, Edward Haas, vir sy laaste keer voor sy tuisskare voor gedraf het, voordat hy ná vanjaar se toernooi gaan halt roep ná 24 jaar van kompeterende rugby – sedert sy laerskooldae as tjokker by De Tuinen Primêr.

Villa het sommer met die afskop sy intensies duidelik uitgespel deur geweldige druk op die besoekers toe te pas. Eagles het aanvanklik die druk pragtig verwerk, voordat Percy Basson (buitesenter) ná ‘n kraglopie die tuisspan se telling met ‘n onvervyfde drie aan die rol gesit het. Hy volg dit vyf minute later op met nog ‘n drie wat Elton Mfundisi (heelagter) vir ‘n 12-0 voorsprong verdoel. Nou heeltemal in beheer boer Villa vir goed tien minute op die besoekers se doellyn en kon kaptein Haas ná agt skrums op Eagles se doellyn oorgaan vir sy drie wat Mfundisi verdoel om Villa met 19-0 te laat voorloop. Hierna volg ‘n onderonsie tussen die twee pakke voorspelers wat uitloop op ‘n rooikaart vir Villa se slot, Moegammad Diederichs. Eagles kry hierna sy eerste en ook enigste drie toe Neethling Slabbert (regtervleuel) in die hoekie oorgaan vir ‘n onvervyfde drie. Kort voor rustyd gaan Villa se skrumskakel, Girshwin Joubert, oor vir ‘n drie wat Mfundisi verdoel om Villa met 26-5 te laat voorloop.

Ná rustyd en met ‘n hele paar vars bene op die veld, neem Villa volle beheer oor en begin die telling met reëlmaat aangroei. Eers gaan Carrick Kustoor (losskakel) oor vir ‘n onvervyfde drie en kort daarna gaan Dwayne Atkins (plaasvervangervleuel) ook oor vir nog ‘n onvervyfde drie om die telling na 36-5 te laat groei. Toe volg Ederies Arendse (binnesenter) se drie wat Mfundisi verdoel om die telling na 43-5 te rek. Hierna gaan nog ‘n plaasvervangerslot, Nazeem Bam, oor vir sy drie en met Mfundisi se suksesvolle doelskop verskyn die vyftigtal op die telbord. Hierna gaan Gurshwin Africa (plaasvervanger-skrumskakel) oor en verdoel Mfundisi om Villa met 57-5 te laat eindig.

Saterdag speel Villa teen Saldanha in die een halfeindstryd, terwyl sy bure, Robertson Town, teen Roses United te staan gaan kom vir ‘n plek in 22 November se eindstryd. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article