Kolwer Lorenzo Bailey in aksie vir Worcester United.Fotos: Marlene Jordaan


Worcester United se krieketspanne het die afgelope Saterdag te staan gekom teen die eerste en tweede spanne van die Universiteit Stellenbosch (US) of te wel Maties.

Die eerste span het gereis na Stellenbosch, terwyl die tweede span gasheer gespeel het vir die tweede span van Maties. United I was effe verswak weens die feit dat sy kaptein AD du Toit diens moes doen vir die Boland Colts en sy bobaas-draaier, Björn Cochrane, afrigterdienste moes verrig by sy onder-13-spannetjie van Worcester Gimnasium.

Maties I wen die loot en besluit om eerste te kolf. Maties begin wankelrig en was ná 8 boulbeurte 19/2, maar herstel goed tot hulle hul vierde paaltjie verloor met hul telling op 95. Maties steier op 138/8 en dit wou voorkom of United hulle gaan uitboul vir onder 150 lopies. Die nommernege-kolwer Ryan Bailey kasty egter die United-boulers met ’n voortvarende 48 lopies van net 50 balle. Sy lopies en sy vennootskap met Lindsay van der Berg sou uiteindelik die keerpunt en verskil in die wedstryd wees. Maties behaal uiteindelik 200 lopies van hul toegelate 50 boulbeurte, waarvan Rashied Paleker 61 lopies bydra van 89 balle. Marshin Jaftha vaar die beste van die United-boulers met 3/42 van sy tien boulbeurte en is goed gerugsteun deur Charlie Fransman met 2/30 ná sy tien boulbeurte en Christo Lukas met 2/22 ook van tien boulbeurte.

United I, wat met die taak gelaat is om 201 lopies vir ’n oorwinning aan te teken, begin droewig en bevind hulle gou op 77/4 ná 15 boulbeurte met die top orde wat weer eens nie die mas opkom nie. Op 106/7 is United I teen die planke en word uiteindelik uitgeboul vir net 140 lopies, wat aan Maties I ’n oorwinning besorg met 60 lopies. Noemenswaardige bydraes vir United I met die kolf kom van Geraldo Cremon met ’n moedige 44 van 54 balle. Hy is goed ondersteun deur Marino Marinus, wat weer eens sy staal en veggees toon met 26 lopies van 55 balle. Vir Maties vaar Salim Ajam die beste met ’n skitterende 5/31 van nege boulbeurte en Lindsay van den Berg met 3/19 van ses boulbeurte.

United II wen die loot op Bolandpark, Worcester en besluit om eerste te kolf, wat vrugte afwerp aangesien die openingspaar van Mornantau Amsterdam en Lorenzo Bailey 134 lopies aanteken. Amsterdam veral, het ingeklim onder die Maties II-boulers met pragtige dekpunt dryfhoue, wat ’n lus was om te aanskou. Bailey was die ankerman en was die eerste kolwer wat moes terugstap kleedkamer toe met 23 lopies. Amsterdam behaal uiteindelik 82 sprankel-lopies. Nog was dit het einde niet vir Maties II toe Warren Davids hul boulers verder kasty en ’n blitsige 55 lopies aanteken. United II behaal 255/5 ná hul toegelate 50 boulbeurte. James Lavell vaar die beste van die Maties II se boulers met 2/44 ná sy tien boulbeurte.

Maties II se beurt begin rampspoedig en bevind hulle gou op 66/3 ná 15 boulbeurte. Hulle verloor met reëlmaat paaltjies en was 111/8 met die rug teen die muur en word uiteindelik almal uitgeboul vir ’n skamele 118 lopies. Vir United II boul Raymon Nonnies uitstekend met 4/31 van tien boulbeurte en ruk die hart uit van die top en middelorde. Nonnies het veral beïndruk met sy lyn en lengte.

JP Swarts het die opruimingswerk ná Nonnies kom doen en maai die laaste Maties II-kolwers af en eindig met ’n briljante ontleding van 4/6 ná drie boulbeurte. Die enigste noemenswaardige bydrae vir Maties II met die kolf kom van die openingskolwer Beon Pienaar met ’n belowende 40 lopies. United II wen met 137 lopies.

Al United se spanne sal oor die naweek in aksie wees. Die vrouespan speel hul laaste wedstryd van die seisoen tuis teen Caledon op Bolandpark, Worcester op Sondag 13 Februarie, terwyl die mans eerste span Saterdag 12 Februarie tuis speel teen Van der Stel I en die mans tweede span weg speel teen Van der Stel II.

’n Groep spelers word oor die naweek aangekondig wat Worcester United as Boland T20-kampioene gaan verteenwoordig op 12 en 13 Maart om die Wes-Kaap se wenner te bepaal wat die Wes-Kaap gaan verteenwoordig by die Nasionale T20-krieketklubkampioenskap.

United sal speel teen die T20- kampioen van SWD, George- krieketklub asook teen die WP T20-kampioen, WPKK.

Hierdie uitspeelwedstryde vind plaas te Nuweland, Kaapstad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article