Adrian Wildschutt breek deur die wenstreep tydens die New York-halfmarathon. Foto: Facebook/Adrian Wildschutt

Adrian Wildschutt, ‘n langafstandatleet van Ceres, se segetog duur voort nadat hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat die gewilde New York-halfmarathon gewen het.

Dié 27-jarige atleet het die wenstreep oorgesteek met sy hande in die lug en ‘n breë glimlag op sy gesig. Hy het die afstand in ‘n indrukwekkende 59:30 afgelê met ‘n gemiddelde spoed van 2:50 minute per kilometer.

Die koue temperature was ‘n uitdaging, veral omdat hy tot onlangs nog in die warm Suid-Afrika was. Kort voor sy aanslag op die laaste paar kilometer van die wedloop het hy sy mus afhaal en sy treë begin rek – sy teenstanders se was lot geseël. Wildschutt het gesê sy afrigter het aan hom gesê het die sleutel sal ‘n vinnige laaste 5km wees, wat hy inderdaad gedoen het.

Adrian Wildschutt het ‘n suksesvolle hardloopjaar agter die rug. Foto: Facebook/Adrian Wildschutt

Die roete van die New York-halfmarathon het van die Brooklyn-museum deur die Prospect-park en met Flatbushlaan af gekronkel, waarna dit oor die Brooklynbrug Manhatten in is. Die atlete het daarna met FDR-weg deur Times Square tot by die wenstreep in Central Park gehardloop .

Vanjaar se marathon het ‘n rekord opgestel met 30 229 hardlopers wat die wedloop voltooi het.

Wildschutt, wat deesdae in Flagstaff, Amerika, gebaseer is waar hy vir Northern Arizona Elite hardloop, het ‘n indrukwekkende jaar agter die rug. Hy het vyf nasionale rekords agter sy naam, het aan vier wêreldkampioenskappe en een Olimpiese Spele deelgeneem en is tans een van die tien vinnigste mans in die wêreld oor die 10 000m-afstand, volgens Northern Arizona Elite.

Die afgelope jaar het hy het die Suid-Afrikaanse rekord in die 5 000m in 12:55 asook in die 10km (27:28) gebreek. Hy het ‘n 10de plek in die 10 000m by die wêreldkampioenskap in Tokyo behaal en ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in sy debuut in die halfmarathon (21.1km) in 59:13 opgestel.

Met sy vinnige opgang in die hardloopwêreld het Wildschutt ook tyd gekry om agter die rekenaar in te skuif. Hy het Maandag (16 Maart) aangekondig dat sy boek Change of Pace in Mei vrygestel word. “Jy sal hierdie ene wil lees. Dit gaan oor my mentaliteit wat hardloop betref en die lewe in die algemeen,” het hy geskryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article