“Hoewel damme se watervlakke beter lyk as vyf jaar gelede, moet verbruikers steeds poog om water te bespaar.”
So sê Raymond Zolongi, ’n woordvoerder van die departement van water en sanitasie.
Zolongi sê die vlakke lyk baie beter as dié van 2018 toe waterbeperkings in die Wes-Kaap veral die Worcester-omgewing geteister het.
Hy sê dit is belangrik dat inwoners elke dag hul bes moet doen om water spaarsamig te gebruik.
“Maak lekkende krane reg; stort eerder as om te bad en gebruik jou badwater vir die tuin – dis alles basiese goed waarmee almal nou al vertroud is.”
Die Brandvleidam net buite Worcester is tans 52% vol teenoor 59% verlede jaar. Die Stettynskloofdam is 101% vol en was verlede jaar ook 101% vol.
Verder is drie ander damme in die Breederivier-omgewing naby hul volle kapasiteit – die Buffeljags-, Eikenhof- en De Bos-dam.
Ses ander damme (naas die Brandvleidam) is in die mediumkapasiteitsone (tussen 51% en 90% vol) – Kwaggaskloof, Lakensvlei, Ceres, Elandskloof, Klipberg en Theewaterskloof.
Vier damme is ook tans in die gevaarsone – dié damme is minder as 50% vol. Dit is die Roode Elsberg-, Pietersfontein-, Poortjieskloof- en Keerom-dam.
“Hoewel nog reën vir die seisoen verwag word, is dit wys om altyd verantwoordelik met waterverbruik om te gaan,” voeg Zolongi by.
Pieter Strydom, ’n boer in die Rawsonville-omgewing, sê water moet steeds bespaar word, aangesien die weer daarop dui dat ons dalk weer ’n droogte kan ervaar.
“Die reënval van die huidige seisoen is baie minder as dit met vorige jare vergelyk word. ’n Effense daling in reënvalsyfers is die afgelope drie jaar bespeur, en as dit so aanhou, kan ’n krisis weer sy verskyning maak. Ons is dankbaar vir somerreën, iets waarop ons nie altyd staatmaak nie, maar gewis die druk verminder.”





