’n Blom (behalwe dié van plastiek) beteken baie op Valentynsdag. Foto:


Gedink jy kan Valentynsoggend gou by ’n supermark inhardloop en ’n kaartjie vir jou geliefde koop? Dink weer as dit vir jou belangrik is watter indruk jy daardeur wek.

Standard het ’n groep vroue gevra om te sê wat hulle dink van die geskenke wat mans op dié liefdesdag gee (en natuurlik watter indruk daardie geskenke van die mans skep).

Die eerste reël is klaarblyklik om nie níks te gee nie – al het julle vooraf besluit die dag is net ’n “geldmaakstorie” en dit beteken nie vir julle veel nie. “Om die een of ander rede is dit nie lekker vir ’n vrou om géén spesiale aandag op Valentynsdag te kry nie,” sê Madré. “My kêrel, soos baie ander, glo dat die dag net ’n geldmaakstorie is, maar tóg.”

Die plastiekrose wat in hul hordes in winkels te sien is, moet liefs vermy word. Vroue dink nie net dit is cheezy en goedkoop nie, maar dit wek ook maklik die indruk dat die man nie werklik vir die meisie omgee nie en net iets gekoop het omdat hy “moes”.

Feitlik dieselfde geld vir klein ornamentjies met I love you-boodskappies op, hoewel dit nie heeltemal so maklik as ’n belediging beskou word nie. “Die man is nie so-o-o oorspronklik nie,” sê Sippora, “maar probeer ten minste.”

Vars blomme, daarteenoor, is altyd welkom. “Blomme is mooi en dit laat my net so mooi voel,” sê Marissa. En as hy dit by die werk laat aflewer, is dit véél beter. “Miskien is dit net daardie openbare verklaring van liefde wat sê: ‘This is my woman and I am proud of having her in my life!’ ” sê Riana.

Marissa meen hoewel juwele eerder vir herdenkings en verjaarsdae gehou moet word en ietwat te veel is om op Valentynsdag te gee, laat dit haar tog voel of die man dink sy is mooi en die moeite werd om “versier” te word. Sippora, daarenteen, waarsku dat dit die vrou kan laat dink die man wil wys dat hy geld het.

Boonop móét hy seker wees dat hy die meisie se smaak ken as hy juwele wil aanskaf. Hy wil haar nie in die ongemaklike posisie plaas om iets waarvan sy glad nie hou nie te móét dra om sy gevoelens te beskerm nie.

“Die gedagte word altyd waardeer,” sê Riana, “maar die verkeerde geskenk of gebaar laat meer dikwels ’n gevoel van teleurstelling en ’n mens kan amper eerder verkies om niks te kry nie as om die verkeerde ding te kry.”

Juis daarom is die een ding wat al die vroue se harte warmer laat klop ’n teken dat hy werklik aan haar gedink het terwyl hy die geskenk gekoop of gekry het, en goed genoeg oplet om haar smaak te ken.

Feitlik alles (behalwe plastiekblomme) sal volgens die vroue in die haak wees as dit “goed gekies is”.

“Die beste geskenk of gebaar is iets wat vir jou wys dat jou geliefde aan jou gedink het toe hy dit gekry of beplan het,” sê Riana.

“Net die feit dat hy moeite doen, soos ’n roos of ’n blom voor jy werk toe gaan, ’n love letter in jou broeksak of sommer ’n stay-at-home dinner,” sê Sippora. “So ietsie wat sê: ‘Haai, ek is baie lief vir jou en jy laat my hart bollemakiesie slaan.’ Dit hoef nie iets fancy of groot te wees nie; die kleiner dingetjies beteken soms meer!”

“Dit is die opregtheid van die gebaar wat tel,” sê Anja. “Al kry ek ’n vars geplukte blom saam met ’n koppie koffie in die bed, en dit word opreg bedoel, is dit meer as genoeg.”

“Weet jy, as hy net die inisiatief neem, sal dit waardeer word. Al moet ek die geskenkie gaan omruil,” meen ’n ander vrou.

“My man is nie baie sterk daarop ingestel nie, maar so een keer in ’n dekade of so gaan hy uit sy pad uit om moeite te doen,” sê Luisa. “Hy het een jaar ’n fotograaf gekry en ’n swart pak aangetrek, en meer foto’s laat neem soos wat hy die klere laat waai het. Die laaste foto was van hom in ’n boxer. O, en toe het hy die foto’s in die huis versteek en ek het ’n skattejag gedoen. Dit was baie cool!”

En hoewel ’n egte Valentynskaartjie wat ’n mens in die winkel kan koop goed genoeg is, is ’n handgeskrewe briefie met woorde wat uit die hart uit kom volgens die vroue die nommer-een-geskenk op Valentynsdag!

Luisa som dit op: “Woorde maak baie meer saak as ’n fancy kaartjie. ’n Wit A4-papier met mooi woorde daarop beteken vir my baie meer as geskenke, duur rose en juwele.”

Madré stem saam: “Volgens my beteken ’n handgeskrewe brief baie meer as ’n kaartjie, plastiekblomme, regte blomme, teddiebeertjies of goetertjies wat ’n mens by Cardies koop, want daai briefie kan ’n mens nie koop nie en is net vir jou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article