Die maand Augustus word deesdae as Vrouemaand beskou, en om hierdie maand te vier praat Standard met verskeie fenomenale vroue.
Vandeesweek gesels ons met die bekroonde Diana Ferrus, bekend vir haar aangryplike skrywe deur die jare.
Vir haar gaan vrou-wees daaroor om te besef dat jou stem saak maak.
“Daar is so baie wat in ’n vrou se lewe aangaan, dalk is jy as dogtertjie konstant afgedruk en dalk gebeur dieselfde in jou werkplek. Maar dit is belangrik om te onthou dat jou stem saak maak. Dis belangrik om jou stem te gebruik, neem jou plek in die wêreld in, sodat jy ’n verskil kan maak.”
Sy meen ook dit vat jare om uiteindelik daai perfekte balans in jou lewe as vrou te skep.
“Dit raak ’n moeilike storie wanneer jy balans in jou lewe wil skep, veral wanneer jy in ’n professionele rol is. Omdat vroue van nature die omgee-rol vervul, is dit soms moeilik om vir ander nee te sê. Ons is net in staat om soveel te gee.
“En oor die jare het ek geleer jy hoef nie sleg te voel om nee te sê nie. Dit leer dan ander om ander mense te vra en op hierdie manier maak ons die poel groter van die wat gee en omgee. Ek dank die Vader dat ek daardie vaardigheid ontwikkel het, dit is bevrydend.”
As vrou en skrywer, vertel sy, was daar tye dat sy nie erkenning vir haar werk ontvang het nie.
“Maar aanhouer wen. Ek het net aanhou werk. En my studies in vroue- en geslagstudies het my ook baie gehelp en ook help besef dat ek my plek as vroueskrywer in die son verdien. Dit het my ook geleer dat ek moet voortgaan en doen.”
Sy wil ook vroue bemoedig om saam met mekaar te staan.
“Al doen jy wat, daar is ’n plek vir jou in hierdie wêreld en jy moet dit ook ’n beter plek maak.
“Stel vir jou doelwitte op en werk daaraan, dit is jou nalatenskap wat jy vorm. Die tyd vir stilbly is verby. Kry vir jou mense wat jy vertrou en gebruik jou stem met hulle.”




