Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBS) gaan voort om sy helde, die bloedskenkers in die Wes-Kaap, te vier en ander te inspireer om hul voorbeeld te volg met hul winterveldtog van Mei tot Augustus.

Hulle bring hulde aan elke skenker wat lewens red deur bloedskenking, en skenkers wat ’n eenheid bloed skenk, sal ’n beperkte uitgawe van ’n paar superhelde-geïnspireerde sokkies ontvang as ’n klein blyk van waardering – terwyl voorraad hou.

“Met die voortgesette koue weer in die Wes-Kaap sien ons steeds die uitwerking op ons bloedvoorraad,” sê Marike Carli, skakelbestuurder by die WCBS. Die O-negatiewe bloedvoorraadvlakke bly krities laag by ’n twee dae voorraad en O-positief by drie dae.

Die WKBS moedig almal aan om te help om die talle pasiënte wat gedurende hierdie deurslaggewende tydperk bloed benodig, te ondersteun deur die koue te trotseer en by hul naaste bloedskenkkliniek gaan bloed skenk.

Bloedskenking neem net 30 minute van jou tyd elke 56 dae. Daarvoor moet jy tussen 16 en 75 jaar oud wees, 50 kg of meer weeg, in goeie algemene gesondheid verkeer en ’n veilige seksuele leefstyl lei. Dit veroorsaak geen liggaamlike skade nie – slegs 475 ml bloed word geneem, en jou liggaam vervang dit binne 24 uur.

Carli raai skenkers aan om ’n aansienlike maaltyd te eet binne die drie tot vier uur voordat hulle ’n kliniek besoek en om hul vloeistofinname voor, tydens en na skenking te verhoog. Skenkers word aangeraai om hulle nie te ooreis nadat hulle bloed geskenk het nie.

“Aangesien ons helde-tema in Augustus tot ’n einde kom, wil ons almal daaraan herinner dat jy ook ’n magtige held kan wees deur drie lewens met een bloedskenking te red,” het Carli bygevoeg.

Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, besoek www.wcbs.org.za, laai die WCBS App af, of stuur ’n WhatsApp na 060 549 7244.

Worcester- en Rawsonville-inwoners kan by die WKBS-kantoor by Napierstraat 26 elke Dinsdag van 10:00 to 19:45 bloed skenk en Vrydae van 10:00 tot 15:00, terwyl Ceres-inwoners vandag (Donderdag 3 Augustus) van 15:30 tot 19:00 by die kerksaal in Kerkstraat kan skenk. Rawsonville gee ook ’n geleentheid vir diegene wat nie na Worcester kan reis nie om op 7 Augustus tussen 16:30 en 19:30 in die NG kerksaal by Van Riebeeckstraat 13 te skenk. Villiersdor­pers kan op 22 Augustus van 16:00 tot 19:30 met ’n vol maag by die Banquet-saal in Malherbestraat regstaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article