Natalie Burrows (54) ure voor ’n operasie in 2020 waarop sy gehoop het haar arm sou gered word.

Credit: JP Myburg

Die arm van ’n vrou wat in 2017 in ’n motorongeluk gebreek is, moes onlangs weens die aard van hierdie beserings afgesit word.

Natalie Burrows (54) en haar man, Charles (57), was in 2017 in ’n botsing buite George betrokke. ’n Taxi het reg van voor in die paartjie se motor vasgejaag.

Charles, wat die motor bestuur het, het ernstige kopbeserings opgedoen en Natalie se arm is op ’n paar plekke gebreek.

Sy moes vir drie maande ’n ortopediese toestel dra nadat sy drie operasies moes deurmaak.

“My arm was morsaf – al die senuwees en al die bene in my arm. Ek het soveel bloed verloor dat ek ’n bloedoortapping ook moes kry.

“Ek het rehabilitasie-sessies ondergaan, maar niks was ooit weer dieselfde nie. Ek was pal in pyn.

“Sowat twee maande gelede het ek ’n veluitslag gekry, wat die pyn nog verder verger het,” vertel Burrows aan Standard.

Sy is weer terug na haar dokter in Robertson. Die dokter het haar vir toetse gestuur en verduidelik dat sepsis die oorsaak is van die veluitslag en pyn.

“Hulle het ’n noodoperasie op my uitgevoer en soveel vog moontlik uit my arm verwyder.

“Ek het ure later wakker geword en is toe meegedeel dat ek ernstige besluite moet neem – of my arm moet geamputeer word, of die infeksie en sepsis sal net uitkring na die res van my liggaam.

“Ek en my man het eers gehuil en toe gebid. Die Here is al een wat ons die wysheid kon gee om die nuus te verwerk. My arm is die volgende dag, op 25 Oktober, afgesit.”

Burrows verduidelik die aanpassing is nog groot en sy sukkel sommige dae om die verlies te verwerk.

“Dit is ’n groot verlies. Ek het al ’n kind aan die dood afgestaan, en die soort seer waardeur ek sommige dae gaan, voel presies soos in daardie tyd.

“ ’n Kind is ’n deel van jou. Jou arm is ’n deel van jou. Hoe simpel dit ook al klink – dit bly ’n groot verlies,” sê ’n emosionele Burrows.

Sy sê ook die aanpassing gaan tans moeilik, maar sy bly deur die genade hoopvol oor die toekoms.

“Ek voel effens dom. Ek moet nog gewoond raak hieraan. Ek is eintlik banger oor wat mense gaan sê.

“Ek wil nie gespot word oor my toestand nie. Ek het nie beheer hieroor nie, maar ek vind berusting in die feit dat ek deur die Here gelei word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article