Hy wou haar met ’n byl en ’n hamer aanrand, haar in hul motor oor ’n afgrond gooi, haar probeer wurg en met kookwater probeer verbrand.
Dit is die hel wat ’n 42-jarige vrou van Worcester vir ’n groot deel van haar huwelik van 18 jaar onder haar man moes verduur.
Tussen die mishandeling deur kon sy daarin slaag om haar graad R-diploma te voltooi.
Ná al die trauma in haar en haar kinders se lewe is sy in November verlede jaar by ’n kleuterskool buite Worcester as hoof aangestel en is besaig om van haar man te skei.
Dié ma van drie het in die lig van Vrouemaand haar hartseer storie met Standard gedeel: “Ek het ’n wonderlike man gehad. Hy het goed na ons omgesien en hy sou altyd uit sy pad gaan vir ons, maar hy was baie beledigend en besitlik.
“Ons het die Here gedien en ons was leiers in die kerk – maar tog het ek deur mishandeling gegaan.”
Sy sê die rede hoekom sy haar huwelik in daardie stadium nie vaarwel kon toeroep nie, was ter wille van haar kinders en omdat sy nie ander blyplek gehad het nie.
Sy het enkele voorvalle aan Standard uitgelig.
Sy vertel sy moes onder meer in ’n stadium vir haar lewe vlug toe sy ietwat laat van ’n begrafnisdiens af teruggekeer het huis toe.
Sy sê haar man het ’n byl gegryp en wou haar daarmee aanrand. Volgens haar het sy haar kind – wat toe nog klein was – net daar gelos en gevlug.
In 2013, sê sy, het die gesin na ’n dorp buite Worcester verhuis. Sy sê daar het die mishandeling erger geraak.
“Ek het met mense wat van die mishandeling geweet het, gepraat. Hulle het vir my gesê ‘dis nou te erg’. My pastoor het gesê ek moet gaan voordat my ma-hulle my in ’n doodskis hier kom haal.”
Volgens haar het sy haar man in 2018 meegedeel sy wil terugkeer Worcester toe. Sy sê hy was gekant teen die plan.
Die ma sê hy het haar op ’n Vrydagmiddag gevra om saam met hom in die motor te klim. Hulle het toe gery. Volgens haar het hy gesê hy sal seker maak sy keer nie terug Worcester toe nie en wou haar toe oor ’n brug afgooi.
“Toe hy vinnig ry en so aangaan, toe besef ek dié man gaan nou iets doen. Ek het geskree. Ek het nie lugtyd op my foon gehad nie, so ek kon niemand bel nie. Ek kon ook nie die motor se deur van binne oopmaak nie, want dit was gesluit.”
Volgens haar het hy by ’n afgrond stilgehou. Die voorste deel van die motor het oor die afgrond gehang.
“Dit was net een move dan gaan daai kar. Ek het gehuil en vir my lewe gepleit. En ek het gebid. Terwyl ek so bid, toe trek hy die kar terug – weg van die afgrond. As ons daar afgegaan het, sou ons dood gewees het.”
Sy sê in nog ’n voorval moes sy in die middernagtelike ure alleen deur die dorp se strate hardloop nadat hy haar weer mishandel het.
Volgens haar het sy in 2018 haar en haar kinders se sakke gepak en teruggekeer Worcester toe.
Twee maande nadat sy Worcester toe gevlug het, sê sy, het hy by haar en die kinders kom intrek nadat hy haar om vergifnis gevra het.
Volgens haar was dit nie lank nie toe begin die mishandeling weer. Sy sê toe sy hom in ’n stadium vertel sy wil van hom skei, het hy haar vasgedruk en wou haar met kookwater brand.
Volgens haar het sy uit vrees gesê sy nie sal nie van hom skei nie.
Sy sê hy wou die gaskan in die teenwoordigheid van hul huilende kinders oopdraai om haar uit te brand. “Hy kon egter nie die gaskan oopkry nie.” Volgens haar het hul buurman tot hul redding gekom.
Sy sê hy het haar ook al probeer wurg nadat sy begin rook het.
Volgens die ma het hulle selfs huweliksberading ontvang. In Junie verlede jaar, sê sy, het sy egter ’n interdik teen hom gekry, waarna hy daar weg is. Sy sê sy het in Desember verlede jaar met die egskeidingsproses begin. “Vandag is my huis baie lig. Ek en my kinders is baie gelukkig. Ek het nooit gedink ek gaan dit maak nie.”
. Die vrou, ’n bekende onderwyser van Worcester, het versoek dat haar identiteit weerhou word om haar te beskerm.





