Sondag (11 Desember) het vlakkiekrieket in Worcester groot opskudding veroorsaak. Dis nou toe die halfeindronde van die Breedevallei Gemeenskapskrieketassosiasie (BVGKA) plaasgevind het in ’n toernooi wat bekendstaan as “Jou kind is my kind”.
“Ek dink die getalle het self gepraat. Die skare was deurlopend deel van die wedstryd met geen geweld, en net krieket,” sê Leon Hermanus, voorsitter van die BVGKA.
Ten spyte van die feit dat die Unknown vlakkiekrieketspan van Riverview, sowel as Clovers- vlakkiekrieketspan van Roodewal, hul opponente behoorlik geklop het, is daar tans min verskil tussen hulle.
Unknown het Pumas ’n behoorlike krieketles geleer, terwyl Clovers vir View Giants met hul samespel goed ore aangesit het.
Unknown sal hoop dat hul sterspeler, Gurshwin Africa, die goeie vorm voortsit soos hy altyd doen, terwyl Clovers baie van hul bestendige kolflys gaan verwag.
“Ek dink dit gaan groot wees. Vlakkiekrieket dra verskriklik baie krag in ons gemeenskappe. Natuurlik is daar uitdagings, maar dan kom daar dae soos Sondae wat ’n mens baie hoop gee,” sê Mario Marinus, bemarkingsbeampte van die BVGKA.
Marinus het bevestig dat die eindronde 18 Desember by die Riverview-woonstelle sal plaasvind waar Clovers en Unknown sal veg vir die eerste plek.





