Een gelukkige persoon was die afgelope naweek die wenner van ’n splinternuwe motor as deel van ’n plaaslike skool se geldinsamelingsprojek.
Hoërskool Breërivier het vanjaar ’n spesiale lootjieprojek gehad as deel van ’n inisiatief om geld vir die skool in te samel.
Saterdag 10 Desember het hulle die gelukkige wenners getrek by ’n spesiale funksie by die Mountain Mill-inkopiesentrum in Worcester.
Daar was talle pryse op die spel, wat ingesluit het ’n televisie, ’n bromponie, kontantpryse en die groot prys – ’n nuwe Suzuki Swift-motor wat deur Frank Vos Motors geborg is.
Die 53-jarige Gerat Laban van Prince Alfred Hamlet in Witzenberg was die gelukkige wenner wat nou met ’n nuwe ryding kan spog.
“Ek was totaal en al geskok toe ek laat weet is dat ek die wenner van die voertuig is. Ek het ’n hele ruk gelede ingeskryf en nie eers verwag om te wen nie. Ek wou net ’n bydrae lewer tot die skool se projek. Ek is baie dankbaar vir hierdie prys,” het Laban aan Standard gesê.
Laban is ’n weldoener en gemeenskapswerker in die Witzenberg-streek en was toevallig besig om kospakkies aan behoeftiges te oorhandig toe hy die nuus gekry het.
“Ek wil ander altyd help en hierdie motor sal dit beslis moontlik maak om meer mense te kan help. Dit het op die regte tyd gekom en ek is vreeslik dankbaar. Ek en my vrou gaan hoeka binnekort met vakansie en nou het ons ’n betroubare ryding.”
Dit is die eerste keer in Laban se lewe dat hy ’n prys wen. Hy het ’n paar dae ná die trekking sy voertuig in Worcester by die borg, Frank Vos Motors, gaan afhaal.
Die ander wenners was:
Evangeline Davids – R250
Shadei Dreyer – R250
Brandon Jacobs – R500
Amber Mentoor – ’n Splinternuwe televisie
Lucrecia Macale – ’n Big Boy-bromponie





