Verlede Sondag (4 Februarie) was Worcester se Eden Gardens tydens die halfeindrondewedstryde van die Burgemeester-Vlakkiekrieket-kompetisie ’n fokuspunt vir talle plaaslike krieketondersteuners toe Young Stars kragte gemeet het teen Zazon Unite en Clovers en Pro-Eagles mekaar in die tweede halfeindronde die stryd aangesê het.
Eerstens was dit Zazon United teen Young Stars. Young Stars het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen. Dit het na ’n goeie besluit gelyk toe hulle vroeg ’n paaltjie laat val het, maar dit was nie die geval aan die einde van die beurt nie. Zazon het daarin geslaag om 117 lopies aan te teken danksy indrukwekkende kolfwerk van Keenan Scheepers, wat 33 lopies aangeteken het. Uiteindelik was dit hopeloos te veel vir Young Stars, wat slegs 87 lopies gehaal het.
Riohaldo Witbooi het vier paaltjies vir 17 lopies vir Zazon in sy drie boulbeurte geneem. Dit het Zazon met ’n voortreflike oorwinning gelaat.
Clovers het sy bure, die Pro-Eagles, in die tweede halfeindronde behoorlik opgefoeter. Clovers het in slegs 15 boulbeurte 140 lopies aangeteken danksy rotsvaste kolfwerk van Mario Marinus, wat 61 van 42 balle gemoker het, terwyl Romano Adams behoorlik gebrul het met 52 van slegs 21 balle.
Dit was ’n bietjie te veel vir die span van Pro-Eagles, wat slegs 60 lopies in sy toegelate 15 boulbeurte aangeteken het. Dit was danksy uitstekende boulwerk van Clovers met Charlton Fransman wat 17 lopies afgestaan en twee paaltjies in sy vier boulbeurte laat kantel het.
Clovers teen Zazon beloof om ’n reuse-eindstryd te wees. Dit gaan een vir die boeke wees omdat albei klubs deesdae so goed vaar. Zazon, wat verlede jaar twee eindstryde gewen het, speel in sy derde eindstryd agtereenvolgens terwyl Clovers die Gemeenskapsbeker- en Riverview-Paastoernooikampioen is. Al twee klubs ken die druk van ’n eindstryd en geen motivering is nodig om ’n wenner te bepaal nie.
Vlakkiekrieketgeesdriftiges kan hulle dus regmaak vir ’n riller soos min wanneer dié twee reuse swaarde kruis.
Die eindstryd word Sondag (11 Februarie) beslis en met die derdeplekuitspeelstryd tussen Young Stars en Pro Eagles om 13:00. Die eindstryd begin om 16:00. Die burgemeester sal die spanne om 15:00 toespreek en voorspoed toewens.





