DE DOORNS – ’n Twaalfjarige meisie was een van twee slagoffers van ’n skietaanval op ’n minibustaxi verlede Woensdag by De Doorns.

Die skietvoorval het voor 20:00 by die Stofland-brug plaasgevind.

“Die een oorledene, Lindikhaya Mlonyeni, het saam met drie ander mans in ’n Toyota Avanza-motor oor die brug gery. Toe hulle aan die ander kant van die brug kom, het twee onbekende mans op die voertuig begin skiet. ’n Twaalfjarige meisie is deur ’n dwaalkoeël getref,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.

“Al vier insittendes van die Avanza is raakgeskiet. Die oorledene is op die toneel dood terwyl die ander hospitaal toe geneem is, maar hulle is sedertdien uit die hospitaal ontslaan.

“Die meisie wat raakgeskiet is, is ook hospitaal toe geneem en die polisie het vroeg die volgende oggend verneem dat sy aan haar wonde beswyk het.”

Die 27-jarige Mlonyeni was ’n veiligheidswag en het die Avanza gebruik om ekstra geld te verdien deur skoolkinders en maatskappye se personeel te vervoer.

Minerva Mbali, die tannie van die tweede oorledene, Marissa van de Westruis, sê dit gaan aan met hulle as ’n familie. “Ons sukkel nog. En nou sit ons ook nog in ’n krisis waar ons nie ’n begrafnisondernemer vir haar begrafnis kan betaal nie.”

Sy verduidelik ook dat hulle buite hul huis gesit het toe die skote afgevuur is.

“Dit was verskriklik. Ons het almal by die huis ingehardloop.

“Marissa het langs die pad met haar maatjies gestaan en gesels toe ’n koeël haar getref het. Dit het haar in die regterkant van haar bors getref. Haar ma is toe later saam met haar hospitaal toe.”

Dit is in hierdie stadium nog onbekend hoekom op die voertuig geskiet is.

Die polisie is nog besig met die ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article