Die wenspan, Clovers, wat die Pumas in ’n vlakkiekrieketwedstryd by die Roodewal-woonstelle druipstert huis toe gestuur het. Foto: Luciano du Toit

Credit: SYSTEM

Vlakkiekrieket is ’n sportsoort waarvan die krag soms onderskat word.

Dit is die formaat van krieket wat ons gemis het, en dit was Sondag (11 September) duidelik toe Clovers by die Roodewal-woonstelle teen Pumas te staan gekom het.

Clovers se kaptein het die loot gewen en besluit om Pumas eerste te laat kolf. Pumas was vinnig uit die blokke met ’n blitsige begin deur sy kaptein, Clyton Oliphant. Hy het 40 lopies – bykans die helfte – tot die Pumas se 89 lopies bygedra. Vir Clovers het Austin Bester die lopietempo laag gehou toe hy vier paaltjies vir slegs agt lopies in sy toegelate vier boulbeurte laat kantel het. Clovers het 89 lopies met goeie temperament gekry toe Javier Visser (47) en Etthienne Jansen (26) vir standvastigheid gesorg het. Dit het Clovers met ’n voorsprong van 10 lopies gelaat.

Pumas was vroeg op die agtervoet – in die tweede beurt reeds. Sy openingskolwers het ’n bietjie gesukkel om aan die gang te kom danksy briljante boulwerk van Clovers se aanvangsboulers.

Die goeie werk van Austin met die agt lopies wat hy afgestaan het, terwyl Mario Marinus (3), Timothy Marthinus (3) en Alderidge Laminie (2) sy voorbeeld gevolg het, het Pumas in 14.1 boulbeurte teruggestuur kleedkamer toe.

Uiteindelik was die 84 lopies hopeloos te min vir Clovers se kolwers. Mario Marinus het 54 hiervan aangeteken terwyl hy goed ondersteun is deur Javier Visser (24). Clovers het die wedstryd met agt paaltjies gewen.

Vir Clovers se spanbestuurder was dit ’n voorreg om terug te wees. “Dis iets wat ek gemis het – die grenshoue, spanning en die vermaaklikheid. Ek het dit gemis. Vlakkiekrieket is terug!” het Marco Booysen gesê en in dieselfde asem Pumas bedank vir die wedstryd en hom sterkte vir die seisoen toegewens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article