Worcester Villagers het Saterdag in ’n goeie kragmeting vir Swellendam-rugbyklub met 23-15 geklop.
Die eerste paar minute van die wedstryd het sommer vroeg amper op ’n drie uitgeloop, maar danksy hardnekkige verdediging van Villa’s se losskakel, Austin Hendricks, kon die telbord vir eers op 0-0 bly.
Dit is dan ook die einste Hendricks wat Villa’s se rekening geopen het toe hy ná ’n skitterende breekslag oorgegaan het vir ’n drie wat hy ook verdoel het vir ’n 7-0 voorsprong.
Die telling het kort hierna ook gegroei tot 10-0 toe Hendricks ook met ’n netjiese strafskop geslaag het.
Daarna word die telling 13-0 toe Hendricks die kol tref ná ’n oortreding deur die besoekers, waarna Hendricks weer na die pale mik om die telling na 16-0 te rek.
Kort voor rustyd teken Swellendam hul eerste punte aan toe hul losskakel, Marionick Carelse, met ’n strafskop slaag en die rustyd telling is 16-3.
Ná rustyd begin Villa’s met ’n totale aanslag wat uitgeloop het op ’n pragdrie deur die heelagter, Morné Mastriet, nadat die voor- en agterspelers in tandem die Villa-opponente behoorlik aan die raai gehad het.
Hendricks, wat beslis sy skopskoene aangehad het, het die drie verdoel om die voorsprong na 23-3 te rek.
Swellendam wou nooit bes gee nie, en ná ’n skitterende terugveg-poging en volgehoue druk het hul flank, Shaun Cooksen, oorgegaan vir ’n drie wat Carelse verdoel en die telling opgestoot het na 23-10.
Die skeidsregter Gabriel Mars van Witzenberg deel egter kort hierna, met net 12 minute oor, drie geelkaarte uit aan Villa-spelers.
Dit het toe grootskaalse ontwrigting veroorsaak onder Villa’s, en hulle moes met alles tot hul beskikking walgooi om die aanslae af te weer.
Alhoewel Swellendam met ’n onvervyfde drie deur Jade Williams (buitesenter) geantwoord het, het Villa’s se verdediging gehou, en eindig die telling met Villa wat met 23-15 uit die stryd tree.
Vir Villa’s was Hendricks die spreekwoordelike rots vir sy span, terwyl die losvoorspeler Sergio van Rhyn sy alles op die aanval en verdediging gegee het.
Villa’s het egter in die lynstane gesukkel en daar sal daadwerklik iets aan hul ingooie gedoen moet word.
. Komende Saterdag, 6 Mei, speel Villa weg teen Montagu-rugbyklub op die King Edwardstadion in Montagu terwyl Swellendam tuisveld-voordeel gaan geniet teen Ashton United.





