Gurshwin Africa op pad doellyn toe. Foto: Willie Joubert

Malmesbury het die afgelope Saterdag (1 November) die asem opgehou… Die son hang lui oor die Swartland se koringlande, maar daar is niks lui aan die atmosfeer nie. Villagers Worcester het ná tien jaar se afwesigheid weer hul voete in die Swartland se graanlande kom druk.

Die Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd teen Wesbank was meer as net ‘n rugbykragmeting – dit was ‘n emosionele heropvoering van ou pyn, nuwe hoop en ‘n dorpsiel wat weer op die proef gestel is.

Villagers Worcester se aanhangers het ingestroom om die span te ondersteun. Daar’s ‘n tante met ‘n Wesbank-serp wat haar hande vryf en fluister: “Mag 2015 en 2018 hulle nie weer herhaal nie.” Dié wedstryde was legendaries en traumaties. In 2015 het Villa op die laaste oomblik die Boland-Top-8-eindstryd met ‘n drie in die hoekie by Wesbank gesteel. In 2018, met ‘n strafskop wat reguit pale toe moes gaan, het ‘n wolkhand, volgens oom Faan, die bal links gedruk. Die Swartlanders het destyds trane met sjampanje gemeng.

Terug in die teenwoordige tyd – Saterdag 1 November – druk die veelsydige Mario Marinus, bekend as die “vlam”, wat gedurigdeur die vuur met sy vinnige denke en vurige spel aan die brand steek, die eerste drie. Twee minute later vlieg die “windhond”, Tyler May, met sy vernietigende spoed oor die lyn. Gurshwin Africa, die dirigent, wat deurlopend die tempo bepaal, volg kort daarna met ‘n prag-drie. Die generaal, Elton Mfundisi, met sy taktiese meesterbrein wat die troepe met visie en presisie lei en sy skopskoene blink gepoets, skop twee keer suksesvol teen die wind. Die telbord wys 19-14 in Villa se guns ná twee drieë deur Wesbank.

Dan kom die lemoenpouse en met die hervatting is Wesbank ‘n ander span met hernieude energie. Villa begin foute maak en die tuisspan druk terug – die telling is skielik 19 elk.

Achmat Adams breek met sy brute krag en ongelooflike aanvoeling soos ‘n stormram deur die verdediging en druk nog ‘n drie. Mfundisi skop oor – 26-19. Die Villa-liedere vul die lug.

Maar net toe jy dink dis veilig om asem te haal, kom Wesbank terug – 26-26. ‘n Geelkaart verskyn vir Villa.

Percy Basson, ‘n nagmerrie vir verdedigers, is nie net vinnig nie – hy’s vlymskerp. Hy sien ‘n gaatjie, glip deur soos ‘n muis in ‘n meul, en druk. Mfundisi skop weer: 33-26.

Wesbank slaan tent op in Villa se gebied. Dis aanval op aanval en die telling staan op 33-33. In die laaste sekondes kry Villa ‘n strafskop. Mfundisi stap vorentoe en onthou wat in 2015 gebeur het. Hy skop oor en verkrummel die Swartlanders se drome.

Villa wen – die telling 36-33.

Die puntemakers vir Villa was Mario Marinus, Tyler May, Gurshwin Africa, Achmat Adams en Percy Basson met elk een drie.

Elton Mfundisi skop vier uit sy vyf pogings oor en maak agt punte bymekaar. Gurshwin Africa is aangewys as die Sanlam Confident Player (Speler van die wedstryd).

• Villa speel Saterdag tuis teen Van Rhynsdorp in ‘n beslissende wedstryd om te bepaal wie gaan deur na die halfeindstryd. Die hekke open om 12:00 vir die publiek. ‘n Rugbykliniek vir agt laerskole begin om 09:30 saam met Rainbow Chickens, Boland-rugby-unie en Villagers Worcester. – Piet Hermanis

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article