Young Hamiltons RVK het verlede Saterdag vriend en vyand verras toe hy die hoogs-aangeskrewe Villagers Worcester met 44-35 geklop en daarmee in die Hammies-dam laat verdrink het.
Die wedstryd voor bykans 20 000 toeskouers het vir hope opwinding gesorg en aan alles van ‘n ware derby voldoen. Die stadion was teen 11:00 al gepak soos beide klubs se ondersteuners in hul duisende na Hammiespark gestroom het.
Villagers het van meet af sy intensies duidelik gemaak en was vinnig met 14-0 voor, ná twee verdoelde drieë.
Hammies het daarenteen geleidelik die druk verwerk en self twee keer agter die doellyn gaan kuier. Een drie is verdoel om met slegs 14-12 agter te loop. Kort voor rustyd slaag Ussiel Langeveldt met ‘n strafdoel om die Blouspan teen rustyd met 17-14 te laat voorloop.
Ná rustyd gaan Villagers blitsvinnig vir ‘n verdoelde drie oor om met 21-17 weer die voortou te neem. Hammies slaan amper onmiddelik weer terug toe Lethan du Bruin een van sy twee drieë druk. Langeveldt verdoel vir ‘n 24-21-voorsprong. Hammies slaag ook hierna met ‘n strafskop, waarna Villagers weer die voortou neem maar slegs met een punt (28-27) voor loop. De Bruin gaan hierna vir sy tweede drie oor wat deur Langeveldt verdoel word. Hammies loop nou 34-21 voor.
Villa gaan hierna twee keer oor maar met die telling op 44-35 en tyd so te sê verstreke was die skrif teen die muur.
Hammies B wen sy wedstryd 19-14, terwyl die C span dit drie uit drie maak met sy indrukwekkende 27-19-oorwinning teenoor Villagers C.
Hammies reis komende Saterdag na McGregor. Busse vertrek om 11:00 vanaf Esselen Tavern. Besoek Mariaan Cupido by Sohngelaan 93 om buskaartjies te koop.




