Worcester Villagers, of Villa, soos hy bekendstaan, het verlede naweek met die aanvang van die tweede ronde ‘n loslooitjie geniet en begin eerskomende Saterdag (14 Junie) sy aanslag op die liga-louere met ‘n tuis- wedstryd op Bolandpark teen die Blue Birds van Bonnievale.
Met die tweede ronde wat met die intrap vir groot skokke gesorg het toe die voorloper, Robertson Town, teen verwagting teen Mc Gregor vasgeval het, en die naasvoorlopers, Montagu-klub, teen Ashton United, kan uitgesien word na ‘n opwindende reeks wedstryde in die Grootuitdaag-kompetisie in die Langeberg-streek van die Boland-rugbyunie.
In ander wedstryde in dieselfde liga speel Rawsonville Saterdag tuis teen die agterosse, Rangers van Robertson, terwyl dit in Montagu derbytyd is wanneer die dorp se twee spanne, Montagu en
Villagers Montagu, of Sesduim, soos hy bekendstaan, op die King Edwardstadion gaan swaarde kruis. Young Hamiltons pak Saterdag die span Ashton – met ‘n verloorwedstryd in die eerste ronde teen die einste span in gedagte, gaan Hammies, soos hy bekendstaan, Saterdag se wedstryd gewis met ‘n nuwe ingesteldheid benader. Town kry besoek van
Touwpark en kan nie nog ‘n nederlaag so vroeg in die ronde bekostig nie. Swellendam, of Swellies, soos hy bekendstaan, kry besoek van McGregor, wat Town verlede Saterdag op die Powellstadion in Swellendam geskok het.
In die Streek-uitdaagkompetisie van die Boland (Breërivier-afdeling), reis Primroses Saterdag na Laingsburg waar hy die tuisspan sal pak. In De Doorns is dit ook derbytyd wanneer Proteas tuisveld-voordeel sal geniet vir sy kragmeting teen sy bure, Mountain Stars. Overhex ontvang besoek van die voor- lopers, Alberts, terwyl Goudini, Worcester Perseverance, Villagers Breërivier, De Doorns United, Klipdrift en Orchard almal Saterdag ‘n blaaskans geniet. – Alver Uys



