MONTAGU – As deel van albei spanne se voorseisoense voorbereidingsprogram het Villagers Montagu RVK en McGregor RVK die afgelope Saterdag (15 Februarie) ’n vriendskaplike wedstryd op die King Edward sportterrein in Montagu gespeel.
Ofskoon dit vir alle praktiese doeleindes in wese slegs ’n oefenwedstryd was, was dit nogtans ’n klipharde stryd wat by tye wipplank gery het.
Albei spanne het in ’n stadium van die wedstryd voorgeloop, terwyl die telling ook twee keer tydens die kragmeting gelykop was (7-7 en 19-19).
Villagers het in die eerste helfte twee verdoelde drieë aangeteken, terwyl McGregor drie drieë, waarvan twee verdoel is, gedruk het. Dit het McGregor teen rustyd in staat gestel om die pas met 19-14 aan te gee.
Villagers het egter in die tweede helfte verbete teruggeveg en drie drieë, waarvan een verdoel is, gedruk. Hierteenoor het McGregor in dieselfde tyd net ’n vyfpunter behaal.
Villagers het uiteindelik met 31-24 gewen.
Vir die tuisspan het Lee van Oordt (2), Warren Swanepoel, Ulfred Terblanché en Dillon Williams drieë gedruk, terwyl Van Oordt en Ashley Monk elk ’n doelskop oorgeklits het.




