MONTAGU. – Touwpark het die Villagers Montagu RVK of Sesduim soos hy algemeen bekend is, Saterdag (2 Augustus) op sy tuisveld, die King Edward- sportterrein met 48-25 oorrompel. Die rustydtelling was 17-13 in die besoekers se guns.
Tans flikker die gevaarligte woes vir die Sesduim-bootjie wat al meer as `n maand lank op die randjie van die relegasiesone ronddobber.
Saterdag se vernederende nederlaag teen Touwpark was die tuisspan se 13de pakslae dié seisoen. Die tuisspan wie se spelpeil tans op `n laagtepunt is, staar die relegasiespook vierkantig in die oë.
Tog was dit Sesduim wat in die stryd teen die besoekende Touwpark eerste punte op die telbord gehad het, danksy `n strafdoel deur sy buitesenter, Beon Hartnick.
Hoewel die tuisspan se telling met `n drie deur Ulfred Terblanché (agsteman) en doelskop deur Hartnick gegroei het, het die besoekers teruggeveg en sake na `n suksesvolle strafdoel en verdoelde drie met 10-10 gelyk gemaak.
Hartnick het kort hierna met `n strafdoel geslaag en die voortou weer aan Sesduim besorg.
Touwpark het egter mettertyd al sterker vertoon.
Net voor rustyd het die besoekers die gang van die wedstryd met `n verdoelde drie in hul guns geswaai en die rustydtelling op 17-13 te staan gebring.
In die tweede helfte was die besoekers in `n vernietigende bui, terwyl die tuisspan se verdediging skouspelagtig ineengestort het.

Touwpark het in `n blitzkrieg vier pragtige drieë, almal verdoel deur hul skerpskutter losskakel, gedruk en skielik was die telling 45-13 in sy guns.
Sesduim was duidelik oorbluf en verras deur die skitterspel van die besoekers, maar het nogtans moedig probeer om in die wedstryd terug te kom.
Terblanché wat uitstaande spel vir die tuisspan gelewer het, het sy tweede drie gaan druk. Hartnick het verdoel, waarna Telfir Lekay (plaasvervanger) ook agter Touwpark se doellyn vir `n onverdoelde drie gaan kuier het.
Maar teen daardie tyd was die koeël al verby die preekstoel.
Hoewel Touwpark die wedstryd reeds in die sakkie gehad het, het hy met `n laaste suksesvolle strafdoel verder sout in die verslane Sesduim se wonde gevryf – die eindtelling 48-25 in sy guns.
Benewens die tuisspan se teleurstellende vertoning het hy boonop ook twee strafkaarte, waarvan een rooi was, op die lyf geloop. Die besoekers is ook met `n geelkaart gestraf.






You must be logged in to post a comment.