Worcester Villagers, of sommer net Villa, soos hy onder vriend en vyand bekend staan, het Saterdag (12 Julie) op sy tuisveld, Bolandpark, nog ‘n stap nader aan Top-12-deelname gegee toe hy Swellendam in die Grootuitdaagkompetisie in die Langeberg-afdeling van Boland 67-12 vermorsel het nadat hy teen rustyd reeds 24-12 voorgeloop het.
Die wedstryd self het heelwat opwinding opgelewer en die groot aantal rugby-liefhebbers wat die koue trotseer het, genoeg rede gegee om tevrede te wees.
Hoewel Villa eerste bloed geruik het toe sy losskakel, Elton Mfundisi, sommer in die eerste minuut met ‘n strafskop geslaag het, was dit Swellies wat met ‘n blitzkrieg twee vinnige drieë gedruk het om Villa behoorlik wakker te skud.
Eers is die slot Shane Cookson oor vir ‘n onvervyfde drie en kort daarna het die buitesenter, Raywin Carelse, ‘n drie gedruk en met die geslaagde doelskop deur die heelagter, Ammesine Jansen-Julius, het Swellies teen die verwagting in met 12-3 voorgeloop.
Dit was egter ‘n keerpunt, want kort hierna is die einste Mfundisi ná ‘n skitter-breekslag onder die pale oor en self verdoel. Kort daarna het Villa die voortou geneem toe sy skrumskakel, Gurshwin Africa, wat die kapteinskap in die afwesigheid van die agsteman, Edward Haas, oorgeneem het, onder die pale gaan druk. Met Mfundisi wat verdoel het, het die telling na 17-12 in die tuisspan se guns verander. Kort voor rustyd het die vaskopstut, Andries de Kock, met brute krag oorgebars en met Mfundisi wat verdoel het, het Villa met ‘n 24-12-voorsprong gaan water drink.
Die voorsprong het kort ná rustyd vergroot toe Africa met ‘n strafskop slaag. Villa het sy bonuspunt-drie gekry toe sy buitesenter, Percy Bason, gaan druk en Africa verdoel het. Die voorsprong het nog gerek toe die regtervleuel, Dwayne Atkins, vir ‘n onvervyfde drie oor is. Die voorsprong het verder gerek toe Africa oor is en boonop self verdoel het.
Hierna het die flank Jubalian Titus gedruk en die plaasvervanger-losskakel
Gurshwin Joubert het verdoel. Die heelagter, Jivanno Melouw, het kort ná mekaar gedruk nadat hy met flinke voetwerk sy opponente behoorlik laat raai het. Joubert het altwee verdoel om die eindtelling op 67-12 te staan te bring
• In die hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Swellies B met 42-3 geklop en Villa se derdes was 46-7 bo in die eerste wedstryd van die dag. Saterdag speel Villa op Hoffiepark in Rawsonville teen sy bure Rawsonville United. – Alver Uys



