Wayde du Plessis van Villa baklei só hard om bal in hand te hou, dat hy sy skoen verloor het.Foto: Mark Ward


Villagers Worcester (Villa) het Saterdag (23 April) sy aanslag op liga-louere in die Langeberg-afdeling van die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagkompetisie op ’n positiewe noot afgeskop.

Villa het die nuwe toevoeging tot die liga, McGregor, met 29-10 verslaan nadat hy rustyd 10-3 voor was.

Hierdie wedstryd, wat op Bolandpark beslis is, het groot belangstelling gaande gemaak aangesien ’n groot kontingent ondersteuners van McGelly, soos die besoekers onder meer bekendstaan, ter ondersteuning van hul span opgedaag het. Villa wou ook die doemprofete, wat gereken het hy sal nie die mas in die topliga opkom nie, verkeerd bewys.

Die besoekers het sommer van meet af aan die stempel met ’n swaar pak voorspelers probeer afdruk. Villa het die aanslag egter met vrug afgeweer en eerste die telbord aan die rol gesit toe die buitesenter, Henrico Jacobs, skerp gebreek en die linkervleuel, Eashaan van der Merwe, gevoer het. Toe laasgenoemde voorgekeer word, was die heelagter, Larren Buys, by om af te rond.

Villa het dus ná die losskakel, Graeme Cupido, se suksesvolle doelskop in die 12de minuut 7-0 voorgeloop.

McGregor het kort hierna punte gekry toe sy skrumskakel, Abrael van Rooi, met ’n strafskop geslaag het. Kort voor rustyd het Cupido vir Villa ook met ’n strafskop geslaag om die rustydtelling op 10-3 te staan te bring.

Ná rustyd en met Villa se “bomb squad’’ – bestaande uit Gaffie du Toit, Monnas Boshoff en Bradman (Bull) Grove – op die veld, het Villa volle beheer voorlangs oorgeneem en sy agttal het McGelly goed laat les opsê.

Nadat verskeie skrums ná Villa-aanslae in duie gestort het, was die skeidsregter, Craig Willams van Montagu, genoop om ’n strafdrie aan die tuisspan toe te ken.

Kort hierna het die kaptein en binnesenter, Zeke Jansen, ná omgekeerde balbesit oorgegaan. Die skeidsregter het Cupido se doelskop erken, maar ná konsultasie met die assistent-skeidsregter is die beslissing gekanselleer (Villa was 22-3 voor).

Villa, nou in algehele beheer voorlangs, het hierna ’n oorstoot-drie aangeteken toe sy agsteman, Edward Haas, die bal pragtig agter die skrum onder beheer gehou en die doellyn toegeval het. Met Cupido se geslaagde doelskop het Villa 29-3 voorgeloop.

Kort voor die einde het die besoekers se losskakel, Jerswin Cupido, vir ’n drie oorgeduik, wat hy boonop self verdoel het om die eindtelling op 29-10 te staan te bring.

In die hoofvoorwedstryd van die dag het Villa se naasbestes McGregor B 24-10 geklop nadat hulle teen rustyd 19-3 voor was. In die eerste wedstryd van die dag het Villa se derde span McGregor C 53-3 geklop.. Saterdag reis Villa na Montagu waar hy op die King Edward-stadion teen Montagu te staan sal kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article