Eensklaps het almal weer net 13 jaar oud gevoel. Oudleerders van die Laerskool Worcester-Oos – nou in hul sestigs – het op 21 Junie (47 jaar nadat hulle gr.7 in 1978 voltooi het) weer in die Japie-klubhuis van die skool saamgekuier.
Altesaam 24 oudleerders, twee sub. A- (gr.1) onderwysers van 1972 en een st. 5-onderwyser (gr.7) van 1978 het die reünie bygewoon. Die huidige skoolhoof, Renee van der Riet, het ook saamgekuier.
Deon Rossouw, wat die reünie-reëlings koördineer het, het aanvanklik gedink dit gaan ‘n onbegonne taak wees om al sy ou klasmaats op te spoor. Dié klasmaats wat hy wel kon opspoor, was dadelik entoesiasties en het ywerig gehelp om die kontaknet wyd te gooi. Oudleerders is van oor die wêreld heen opgespoor – selfs van Engeland, Nigerië en die Seychelles-eilande.
Die groep se beroepe is net so wyd, met ingenieurs, entrepreneurs, kunstenaars, eiendoms-agente, onderwysers, medici en mense in staatsbestuur, landbouproduksie en wildboerdery.
Die groep het herinneringe uit hul laerskooldae gedeel.
Een het vertel hoe hy ‘n yslike loesing oor sy swak punte op die lyf geloop het. Om daarvoor te vergoed, het hy in sy latere lewe twee meestersgrade verwerf.
‘n Ander een het vertel watter indruk dit op hom gemaak het om skool te gaan in ‘n omgewing wat voel soos jou eie huis – die fietsry skool toe, die vrye natuur, die gevoel van maats wat saamstaan en mekaar help. Nog een het vertel dat dissipline, selfrespek, en respek vir en diens aan jou medemens die blywende waardes is wat die skool haar geleer het.
‘n Ander oudleerder het die st. 5-reünie as meer intens en aangrypend as ‘n matriekreünie ervaar. Daar was geen voorgee nie. Almal het skielik weer 13 jaar oud gevoel en niemand moes iets bewys nie – dinge wat ‘n mens eers later in die lewe geleer word.





