Worcester Villagers het sy liga-verpligtinge vir die 2023-seisoen in die Groot Uitdaag-kompetisie (Langeberg-afdeling) van die Boland- Rugbyunie Saterdag (9 September) op Bolandpark op ’n hoë noot afgesluit deur die besoekers, Montagu Villagers, met 78-17 te oorrompel.
Villa het ’n allemintige 12 drieë ingeryg, waarvan tien in die tweede helfte aangeteken is.
Boonop het die tweede en derde spanne ook hul liga-verpligtinge met bonuspunt-oorwinnings verseël en daarmee verseker dat hulle ná vele negatiewe aanslae vanjaar, wat plek-plek gedreig het om hulle te ontspoor, met ’n positiewe ingesteldheid kan uitsien na die komende 2024-seisoen.
In die hoofwedstryd van die dag het Villa se A-span die besoekers veral in die tweede helfte behoorlik dronkgehardloop nadat hulle teen rustyd teen ’n sterk wind met 14-12 voor was.
Die span se ster-linkervleuel, Cubitt Micheals, het ’n driekuns in drieë aangeteken en die skare, wat gure weerstoestande getrotseer het, telkemale met veral sy dartellopies op hul voete gehad.
Ander driedrukkers vir Villa was die loskopstut Mias Coetzee; die haker en kaptein, Johannes Geldenhuys; die slot Jason Wehr; die glibberige skrumskakel, Romeo Eksteen; die woelwater en deurwinterde agtsteman, Edward Haas; die binnesenter, Shandro Issel; die flank en spoedvraat Mario Marinus asook sy plaasvervanger-flankmaat Zaydon Adams, en die heelagter Jarian de Klerk. De Klerk het ook met sewe doelskoppe geslaag vir ’n persoonlike bydrae van 19 punte tot die eindtelling, terwyl Villa se skitterende jong losskakel, Girshwin Joubert, sukses met twee doelskoppe behaal het.
Vir Montagu Villagers, of Sesduim, het die loskopstut, Jovan Hartnick; die haker en kaptein, McMillan Muller; en die agtsteman, Bradman (Bull) Grove, drieë gedruk.
Die heelagter, Atney (Ettie) Strydom, het met een doelskop geslaag.
Dit was na wat verneem word ook die hoogste telling wat dié seisoen in die streek se Grootuitdaag-kompetisie aangeteken is.
Met die onderskeie ligas in die streek, wat nou amptelik vir die 2023-seisoen tot ’n einde gekom het, verskuif die fokus nou na die top-12-uitspele. Die oë van die rugbyondersteuners is nou vierkantig gerig op die streek se twee verteenwoordigers, die ligawenners, Robertson Town, en die naaswenners, Young Hamiltons. Hulle moet die streek se naam gaan hoog hou in die uitdagende streekkompetisies om te bepaal wie Boland se Grootuitdaag-kampioen vir die 2023-seisoen gaan word.




