Alver Uys
Worcester Villagers, of soos hy deesdae in die volksmond sommer as Villa bekend staan, het Saterdag 26 April seker gemaak van maksimumpunte toe hy sy bure Rawsonville United 32-22 verslaan het nadat hy teen rustyd reeds 17-3 voor was.
Villa het sy voorneme sommer van die afskop af duidelik uitgespel toe hy met reëlmaat geweldige druk op sy teenstanders se skrums geplaas het. Een so ‘n aanslag het tot ‘n drie deur die slot Karel Tarentaal gelei, wat die losskakel, Freek Malliwes, boonop
verdoel het om Villa ná slegs ses minute met 7-0 te laat voorloop. United het kort hierna sy eerste punte gekry toe sy losskakel, Mouries Faro, met ‘n strafskop geslaag het. Villa het egter sy voorsprong gerek toe ook Mallies met ‘n strafskop punte aangeteken het. Ná nog skitterende skrumwerk is ‘n strafdrie aan Villa toegeken, wat die rustydtelling op 17-3 te staan gebring het.
Ná rustyd het Rawsonville United met hernude ywer gespeel en is met ‘n sewepunter beloon toe sy loskopstut,
Ashwinn van Rooyen, vir ‘n drie oorgebars het, wat Faro ook verdoel het om die agterstand na 10-17 te laat krimp. Kort hierna het Villa se voorsprong weer gerek toe sy woelwater-flank Mario Marinus met ‘n slim stukkie spel ‘n onverdoelde drie gedruk het.
Rawsonville United het egter nooit bes gegee nie en is met ‘n onverdoelde drie deur die agsteman, Edwin Cornelius, beloon. United se lot is egter verseël toe die plaasvervanger-binnesenter Josh Sepember met flinke voetwerk en uitstekende visie hulle aan die slaap gevang en onder die pale gedruk het – Villa se bonuspunt-drie. Met Mallies se suksesvolle doelskop het Villa 29-15 voorgeloop.
Mallies het kort hierna met nog ‘n strafskop geslaag om die voorsprong verder te rek. Kort voor die einde is United se flank Shandre Moloi oor vir ‘n drie wat die plaasvervanger-binne- senter Ambrose Steyn verdoel het om die eindtelling 32-22 te maak.
In ‘n opwindende hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Rawsonville United se naasbestes 24-3 geklop om met dié bonuspunt-oorwinning ook hul onoorwonne status in hul afdeling te behou. Villa se derde span het die dag op ‘n positiewe noot begin toe hulle Rawsonville United se derdes met 43-5 afgeransel het.
Saterdag verskuif die fokus na Robertson, waar verlede seisoen se twee top-12-finaliste mekaar op die Van Zylstraat-stadion pak wanneer Robertson Town teen Villa te staan kom.




