Worcester Villagers se groot ondersteunerskorps is hartseer.
Hulle het Saterdag 15 November in groot getalle opgeruk na die Boland-stadion in Wellington, met die verwagting dat hul span sou wen, maar die Weskuskampioenspan Saldanha het ander planne gehad. Saldanha het die wedstryd 39-27 gewen ná hy rustyd reeds met 22-12 voor was.
Saldanha, wat beslis sy huiswerk deeglik gedoen het, het sommer van meet af aan met mening aangeval en dwing in die eerste minuut van die wedstryd ‘n strafskop af wat die skrumskakel Mornay Jacobs in punte omskep. Villa laat egter nie op hom wag nie en begin self met ‘n teenvoeter wat uitloop op ‘n drie deur die linkervleuel Francesco May. Die gewoonlik betroubare skopper-heelagter Elton Mfundisi kon dit ongelukkig nie verdoel nie.

Saldanha kom self met ‘n verwoede aanslag wat uitloop op ‘n drie deur die slot Emile Booysen wat die heelagter Graig van Rensburg boonop uit die hoekie verdoel vir ‘n 10-5-voorsprong. Nou behoorlik aangevuur, breek die binnesenter Marc Andries skitterend en gaan rond af. Die doelskop trek ongelukkig links verby. Kort hierna gaan die einste Van Rensburg onder die pale oor en met die doelskop ‘n blote formaliteit, loop Saldanha nou met 22-5 voor. Villa kom egter met mening terug en hoewel afronding hulle verskeie kere in die steek laat, kry hulle wel ‘n sewepunter toe die haker Achmat Adams ná ‘n dryfmaal-beweging oorgaan en Mfundisi met die doelskop slaag om die telling teen rustyd op 22-12 te staan te bring.
Ná rustyd begin Villa egter met nuwe vuur en gaan die skrumskakel Gurshwin Africa vir nog ‘n onvervyfde drie oor. Nou behoorlik aangevuur, gaan die buitesenter Percy Basson ná ‘n skitterende breekslag oor. Ook hierdie drie kon egter nie verdoel word nie, maar sake is nou met 22 elk gelykop.
Saldanha kom met mening terug, maar gelukkig hou Villa se verdediging totdat die loskopstut Ginga Mavasa oorgaan vir ‘n drie wat Van Rensburg ook verdoel. Ná ‘n geelkaart aan Villa, en nou met 14 spelers, slaag die flank Virgil Stofberg met nog ‘n doelskop en loop Saldanha nou met 36-22 voor. Basson gaan hierna vir sy tweede drie oor wat ongelukkig ook nie verdoel kon word nie. Saldanha verseël egter die wedstryd en ‘n plek in die eindstryd op 22 November ook in Wellington. – Alver Uys




