In ’n werksdag is “dankies” soms skaars, maar wil die Wes-Kaap Gesondheid en Welstand hul dank betuig aan verpleegkundiges vir hul diens en sorg aan gemeenskappe – spesiaal op internasionale dag vir verpleegkundiges wat vandag gevier word.

Vanjaar se tema is ‘Ons verpleegkundiges, ons toekoms’.

Volgens Sandra Maritz, kommunikasiebeampte: Kaapse Wynland Distrik Gesondheidwerkers bedien die Kaapse Wynland (Breedevallei, Drakenstein, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg) ’n area waarin meer as 950 000 mense woon. Baie mense vestig hulself ook deur die jaar tydelik in die omgewing vir werk. Verpleegkundiges dryf dienste op kliniek-vlak en is ook onmisbaar in hospitale, daghospitale en mobiele klinieke.

“Soms voel jy as verpleegkundige dalk nietig of jy dink mense kyk jou mis, maar weet dat jy ’n verskil maak en waardeer word,” sê Handri Liebenberg, direkteur van die Kaapse Wynland Distrik vir die Departement. “Jy tél. Vandag en elke dag.”

Verpleegkundiges vanuit die Wynland is gevra om ook hul gedagtes oor vandag, 12 Mei asook hul beroep te deel.

• Sr. Anthia Meyer van Groendal-kliniek is nog net drie jaar in diens van die Departement, maar sy sê haar kennis is baie verbreed in hierdie kort rukkie. “Die geleentheid wat ek al gehad het om ervaring op te doen in verskillende areas, en om saam met verskillende rolspelers aan veldtogte te werk, is vir my ‘n hoogtepunt,” sê sy. “Dit is belangrik dat ons die bydraes van verpleegkundiges vier!”

• “Ek dien my gemeenskap met trots,” sê stafverpleegster Jaqueline September van TC Newman Gemeenskaps-dagsentrum oor die bykans 30 jaar wat sy ’n gesondheidswerker is. Vir haar is dit belangrik om voorligting aan pasiënte te gee sodat hulle hul lewens kan verbeter. Sy is baie trots daarop dat sy deel kon wees van die instelling van ’n afspraakstelsel by TC Newman sodat mense weet hoe laat om te kom vir hul konsultasie. Sy was verantwoordelik daarvoor om mense te help om die stelsel te verstaan. “Dit het tyd geneem, maar die gevolg was dat kliënte baie gedissiplineerd hul tydgebonde afsprake nakom,” sê sy. Uit haar perspektief is die viering van Internasionale dag vir verpleegkundiges tweedoelig: dit herinner mense aan die belangrike rol wat verpleegkundiges speel, en dit herinner verpleegkundiges aan die eed wat hulle afgelê het.

• Internasionale dag vir verpleegkundiges is besonder na aan Sr. Elisia Malgas van Slanghoek-mobiele-kliniek se hart. Sy glo elke verpleegkundige moet hul beroep en die liefde en sorg wat daarmee gepaard gaan, vier. Sy het die leiding geneem met die reël van ‘n funksie om verpleegpersoneel in die Breedevallei te vier. “Ek is sedert 2014 by Gesondheid en ek is trots daarop om te sê ek het in 2018 gekwalifiseer as kliniese verpleegkundige sodat ek holistiese sorg vir pasiënte kan gee.”

• Dit is vanjaar verpleeg-assistent, Priscilla Smith van Stellenbosch-hospitaal, se 28ste jaar as gesondheidswerker. Dit maak haar dag wanneer ’n pasiënt wat bedlêend was op sy eie uit die hospitaal kan stap, en wanneer sy kan deel in ouers se vreugde wanneer ’n baba gebore word. Hoewel haar werk dikwels beteken dat sy skofte werk en dikwels nie tuis is vir spesiale tye soos Kerstyd nie, is sy nie spyt dat sy hierdie beroep gekies het nie. “Ek doen my werk met liefde en ek gee baie om vir my pasiënte. Ek het ’n passie vir my werk en sal altyd die ekstra myl gaan,” sê sy.

• Sr. Cathleen Solomons, assistent-bestuurder van primêre gesondheidsorg in die Wellington-area, sê niks is so bevredigend as wanneer ’n pasiënt gesond word nie. “En ook die klein woordjie ‘dankie’ wat jy kry,” sê sy. Solomons het vroeg in haar loopbaan besef sy wil deel van die bestuurspan wees sodat sy van daardie platform af ‘n verandering kon maak vir pasiënte en personeel. Sy kyk nou terug op 44 jaar van diens en is dankbaar dat sy haar doel kon bereik. “Ek wil ’n beroep op al die verpleegsters doen om nooit hulle passie te verloor nie – behandel almal met respek, liefde en menswaardigheid.”

• “Verpleegsters is besondere mense,” sê stafverpleegster Ansie Liebenberg van Bergsig-kliniek. “Al was vandag dalk die slegste dag ooit, is jy môre weer op jou pos en ontvang jy elke pasiënt met die nodige sorg en respek.” Ansie was vir die afgelope 26 jaar deel van mobiele kliniekdienste in die Roberston-omgewing en sê hoewel pasiëntsorg altyd die prioriteit is, koester sy die vriendskapsbande wat sy met kollegas het. Sy tree September af en haar boodskap aan ander verpleegkundiges, is om elke geleentheid te benut wat jy het om ’n verskil in iemand se lewe te maak.

• In haar 43 jaar as verpleegkundige, het sr. Maureen Mentoor van Rawsonville-kliniek dit die meeste geniet om in die kraamsaal te werk om ma’s te help tydens die kraamproses. “Nurses Day beteken baie vir my. Dit is een dag waarop jy waardeer word vir die passie wat jy elke dag insit,” sê sy.

• Stafverpleegster, Patience Finiza van Montagu-hospitaal sê haar ma, wyle sr. R. Jantjies, was die Florence Nightingale wat haar aangemoedig het om ’n verpleegkundige of maatskaplike werker te word. “As kind het ek saam met haar na Zolani gegaan waar sy babas gevang het by mense se huise. Sy het selfs in die middel van die nag uitgegaan en met haar tas van huis tot huis gegaan,” onthou sy. “Verpleging is my roeping. Ek moedig ander kollegas aan om trots te wees op hul professie. Volg die eed wat ons aflê; beoefen dit daagliks.”

Stafverpleegster Jaqueline September van TC Newman Gemeenskaps-dagsentrum.
Sr Cathleen Solomons, assistent-bestuurder van primêre gesondheidsorg in die Wellington-area.
Ingeskrewe verpleegster Ansie Liebenberg van Bergsig-kliniek.
Sr. Elisia Malgas van Slanghoek-mobiele-kliniek.
Sr. Maureen Mentoor van Rawsonville-kliniek.
Stafverpleegster, Patience Finiza van Montagu-hospitaal.
Verpleeg-assistent, Priscilla Smith van Stellenbosch-hospitaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article