Brewelskloof-hospitaal het onlangs drie verpleegkundiges gegroet nadat hulle 40 jaar diens by dié hospitaal gelewer het, maar nié voordat almal heerlik gelag en gesels het oor hul drome wat hier gestalte gevind het nie.
Emily Pietersen is in 1981 by Brewelskloof aangestel, Dolly August in 1982 en Mara Ruiters in 1983.
Benewens die kort tyd wat Dolly na ’n ander fasiliteit vir verdere opleiding tot staf-verpleegster was, was Brewelskloof hul “huis” vir die duur van hul loopbane, en hulle sou dit nie anders wou hê nie.
As kinders het hulle daaroor gedroom om te verpleeg. Wanneer Emily en haar maats gespeel het, was sy altyd die een om almal se wonde te verbind. As kind het Dolly haar ouma, ’n vroedvrou, bewonder en haarself belowe dat sy ook daardie wit uniform sal dra. Mara onthou elke opstel op skool het gegaan oor haar droom om ’n verpleegkundige te wees, en die voorreg wat dit sou wees om die uniform te dra.
Hulle onthou met verwondering en dankbaarheid hoe hulle oor die jare pasiënte ontvang het vir wie daar byna geen hoop was nie, maar hoe hulle daartoe kon bydra dat van hierdie einste pasiënte self kon loop die dag wat hulle ontslaan is.
“Jy sien jou eie mense in die pasiënte,” sê Emily, ’n verpleegassistent. Hulle verstaan dat iemand soms nie kos het nie en daarom sy medikasie staak, en dat ’n tekort aan goeie ondersteuning tuis ook daartoe kan bydra dat iemand se herstel belemmer word. “Ek het al gesien hoe ’n pasiënt sterk geword het en ontslaan is, net om brandmaer en baie siek weer opgeneem te word. Maar, met die goeie versorging kon hy in ’n week se tyd goed aansterk,” onthou Emily.
Emily en Mara is verpleegassistente en Dolly ’n stafverpleegster, maar hulle sê sorg is veel meer omvattend. Weens die moeilike omstandighede waaruit baie pasiënte kom, was hulle elkeen ook al ’n berader, ’n predikant, ’n maatskaplike werker en ’n polisievrou.
“Ek hou daarvan om pasiënte te bemoedig,” sê Mara. “Dit is vir my baie belangrik. Hulle noem my al ‘Dankie vir die liefde’, omdat dit iets is wat ek graag sê!”
Dolly dink met dankbaarheid terug aan veral die beginjare toe sy die kans gekry het om by Brewelskloof-hospitaal te werk terwyl sy haar skoolloopbaan deur Abet voltooi het. Hulle bedank die bestuurspan by die hospitaal wat die potensiaal in hulle gesien het, hul kollegas oor die jare en hul families vir die opofferings wat hulle gemaak het.
Hierdie drie word beskryf as uitmuntende mentors vir nuwelinge in die beroep en saam met personeel van Brewelskloof-hospitaal, prys Wes-Kaap Gesondheid hulle vir hul diensbaarheid. “Hierdie is ’n eerste vir Brewelskloof-hospitaal – om totsiens te sê aan personeel wat gesamentlik 131 jaar diens gelewer het,” sê sr. Rochelle van Rooyen, bestuurder van verpleegkunde by die hospitaal. “Elkeen van hulle het hul merk gemaak en ons eer hulle vir hul toewyding. Elkeen sal onthou word vir haar unieke bydrae.” Die drie is vir oulaas weggesien deur personeel wat ’n erewag vir hulle gestaan het.





