Phuthuma Panyapanya
Phuthuma Panyapanya van Zwelethemba het ook in die verkiesing gestem. Sy het gestem by die stempunt by die Zwelethemba- burgersentrum. Foto: Enrico Claassen

Verkiesing verloop vlot in Breedevallei

Phuthuma Panyapanya
Phuthuma Panyapanya van Zwelethemba het ook in die verkiesing gestem. Sy het gestem by die stempunt by die Zwelethemba- burgersentrum. Foto: Enrico Claassen

WORCESTER – Die stemproses het Woensdag vlot verloop by stempunte in die Breedevallei munisipale gebied, met lang toue vroeg in die dag maar ‘n laer opkoms later die middag.

By Hoërskool Goudini in Rawsonville het groot getalle kiesers reeds kort ná 07:00 geduldig in lang toue gewag om hul stem uit te bring. Die stempunt was besig met kiesers wat gretig was om te stem.

Frans de Manielle
Frans de Manielle van Rawsonville voel goed na hy sy kruisie getrek het.
Frans Tol, OVK-beampte in Rawsonville, gee ‘n oorsig oor hoe die 2026- munisipale verkiesing by stempunte in die gebied afgeskop het. Video: Enrico Claassen

In Worcester het die proses glad verloop by verskeie stempunte. By die Esselenpark-stadion het Lewis Heradien (50), wat verlede jaar ‘n ernstige beroerte gehad het, met die hulp van sy 85-jarige ma sy stem uitgebring.

Lewis Heradien (50) en sy ma, Sophie Heradien (85)
Lewis Heradien (50) en sy ma, Sophie Heradien (85), van Roodewal in Worcester by die stempunt by die Esselenpark-stadion in Worcester. Foto: Enrico Claaasen

Rosslyn Aries, die adjunk-verkiesingsbeampte by die Worcester Stadsaal, het bevestig dat alles glad verloop het sonder enige probleme of klagtes. Personeel en partywaarnemers was behulpsaam en daar was geen probleme nie.

By die Zwelethemba-burgersentrum in De Doorns was die opkoms teen vanmiddag egter laer as te wagte. Teen 14:00 het slegs 300 van die verwagte 1 500 kiesers op die kieserslys reeds hul kruisie kom trek. Beamptes het die warm weer, met temperature bo 30 grade Celsius, geblameer vir die swakker opkoms en gehoop dat meer kiesers later die aand sou opdaag wanneer dit afkoel.

Volgens Claressa Pretorius, voorsittende beampte by die stemlokaal by die De Doorns-Wes- sportgronde, was die opkoms vroeg vanoggend goed met ‘n lang tou kiesers wat reeds teen 06:45 opgedaag het om stemreg uit te oefen. Teen 13:45 het altesame 217 kiesers uit die 807 (spesiale stemme uitgesluit) kiesers wat vandag verwag is, hul kruisies kom trek.

Claressa Pretorius
Claressa Pretorius, voorsittende beampte by die stemlokaal by die De Doorns-Wes- sportgronde glimlag breed. Foto: Enrico Claassen

Marinda Smit met wie Standard Breederivier Gazette by die De Doorns-Wes sportgronde gesels het, het ook haar stem laat hoor in vanjaar se munisipale verkiesing. Volgens Smit het sy gestem vir ‘n beter toekoms vir almal en vir ekonomiese vooruitgang.

Marinda Smit
Volgens Marinda Smit het die stemproses by die De Doorns-Wes sportgronde seepglad verloop. Foto: Enrico Claassen

Geen formele klagtes is by enige van die stempunte ontvang nie, en kiesers met wie Standard Breederivier Gazette gepraat het, het die proses as bevredigend beskryf.

‘n Korrespondent het vanuit Robertson gesê dat die verkiesing ook hiér rustig verloop.

Vir regstreekse uitsending van die munisipale verkiesing landswyd, kliek hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article