Aron Siswana (36) van Worcester het onlangs uitgevind hy is gekies vir die parlementêre rugbyspan wat in Augustus in Frankryk aan die rugby-wêreldbeker gaan deelneem teen ander parlementêre spanne.
Dié ywerige rugbyspeler het nie net ’n liefde vir rugby nie, maar hardloop ook en het die afgelope Sondag (11 Junie) aan sy vyfde Comrades-marathon deelgeneem.
Siswana het op die plaas Medoc grootgeword naby De Doorns, waar sy ma gewerk het.
Hy het in 2005 gematrikuleer aan Worcester Gimnasium waar hy in talle rugbyspanne gespeel het, insluitend die Cravenweek- en Bolandrugbyspanne.
Ná sy studie het hy na Worcester verhuis waar hy begin werk het as ’n verkeerskonstabel by Worcester se verkeersdepartement.
In 2018 het Siswana vir eers rugby gegroet nadat hy klaargemaak het by Worcester Villagers, met die plan om op sy loopbaan te fokus.
Nietemin, ’n paar weke gelede het iemand in rugbykringe hom weer geskakel en aangemoedig om lid van die Suid-Afrikaanse parlementêre rugbyspan te word, waarna hy toe die proewe gespeel het en as haker gekies is.
Van 29 Augustus tot 9 September gaan die Suid-Afrikaanse parlementspan na Frankryk waar hulle aan die Parlementêre wêreldbeker sal deelneem teen ander spanne van oor die wêreld heen.
Die kinkel in die kabel is egter dat Siswana ’n stewige bedrag nodig het om hierdie avontuur te verwesenlik.
Indien iemand ’n donasie wil gee, kan dit inbetaal word by die Suid-Afrikaanse parlementêre rugby- en sokkerklub in hul Absa-rekening met 4075633913 as die rekeningnommer, en 632005 as die takkode.
Siswana is een van drie Worcester- inwoners wat vir die span gekies was. Die ander twee spelers is Arriel Boer en Whaleed Heyns.





