Wyle Vernon Neethling Foto:

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Een van Worcester se geliefde seuns en uithaler-sportmanne op sy dag, die 69-jarige Vernon Neethling, is Saterdag 22 April oorlede nadat hy die afgelope aantal maande met sy gesondheid gesukkel het. Nierkanker is in Desember 2022 by hom gediagnoseer.

Vernon, seun van die legendariese oud-Boland- en Saru-senter, wyle oom Johnny Neethling, is gebore op 13 Januarie 1954.

Hy matrikuleer aan die Hoërskool Esselenpark en bekwaam hom as opvoeder aan die destydse Hewat Opleidingskollege. Hy verbeter later sy kwalifikasies aan die Universiteit van Wes-Kaapland en begin as opvoeder werk by die Hoërskool Breërivier waar hy met passie sy rol as wiskundeonderwyser uitleef. Ná sy uittrede los hy af by De Kruine Sekondêr in Touwsrivier, by sy Alma Mater Esselenpark, asook by FJ Conradie in De Doorns waar hy ’n indruk maak.

Hy tree op 28 Maart 1981 in die huwelik met sy vrou, Bertha (een van ’n tweeling en ook ’n opvoeder), en uit die huwelik is twee kinders, dr. Betram Neethling, ’n mediese dokter in Kanada, asook Verena, ’n lektor aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom, gebore. Hy was ook die trotse oupa van twee kleinkinders.

Vernon was ’n mense-mens en het sonder onnodige trompetgeskal met soveel deernis na hulpbehoewendes uitgereik. Hy het ook vir etlike jare ’n voedingsprojek bedryf waar hy kos en hulp aan haweloses gegee het. Hy was ook ten nouste betrokke by die Rooms-Katolieke-gemeente in Parkerstraat en het ook daar met oorgawe sy talente uitgeleef.

Hy was ook ’n uithaler-sportman wat nie net rugby vir Villagers gespeel het nie, maar ook met rugby en krieketafrigting by HB uitgehelp het. Sy ander groot liefde was tennis en op kollege het hy provinsiale kleure in die kode verwerf. Ná sy amptelike uittrede het hy nog gereeld opkomende sterre met kundige raad en bystand bygestaan.

Hy was ook ’n skitterende skaakspeler en het met sy vaardigheid ook altyd ander gehelp om kompeterend te wees.

Hy het ook as atletiekbaan- en veldbeampte sy kant gebring wanneer daar op sy nommer gedruk is.

Sy ander groot passie was natuurlik sy liefde vir wiskunde en volgens sy swaer Ruben Titus, skoolhoof by Victoria Primêr, het sy liefde vir wiskunde baie voordele vir die familie se kinders ingehou, want hy het nooit gehuiwer om hulle met wiskunde te help nie. Dit het egter nie net by familie gebly nie, want ook kinders by die skole waar hy onderwys gegee het, kon altyd op sy vaardigheid en hulp staatmaak.

. Neethling word Saterdag om 13:00 vanuit die Rooms-Katolieke kerk Maria Goretti in Parkerstaat begrawe. Die troosdiens by sy huis te Queenstraat 18, Victoriapark is om 12:00. Besigtiging begin om 11:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article