Die Van Loveren-wynplaas net buite Robertson in die Langebergstreek het onlangs sowat 67 hektaar van die Landskroon-wynplaas in Suider-Agter-Paarl by Fijnland Holdings gekoop.
Die transaksie sluit Landskroon se pakhuis, kelder, botteleringsaanleg, handelsmerk en kantoor in. Die doel van die verkryging is om Survivor Wines – ‘n handelsmerk wat Van Loveren teen die einde van 2024 gekoop het – op hierdie perseel te vervaardig. Landskroon beslaan 720 ha.
Volgens ‘n persverklaring deur Van Loveren sal die kelder na verwagting vroeg in 2026 heropen. Die Landskroon-handelsmerk sal aktief bly en onder Van Loveren se eienaarskap voortgaan – met behoud van sy eie identiteit – terwyl dit voordeel trek uit Van Loveren se bemarkings-, verkoops- en verspreidingsvermoëns.
Dit volg nadat Landskroon – saam met grond op verskeie ander plase in dieselfde omgewing – aan die eiendomsontwikkelaar Fijnland Holdings verkoop is. Die maatskappy beoog om ‘n leefstyllandgoed met die naam Fijnland op hierdie eiendom te ontwikkel. Die ontwikkeling sal ook dele van ander plase met dieselfde ligging insluit.
Een van Fijnland Holdings se lede is Martin Venter, ‘n stigterslid van die gesogte Val de Vie-landgoed in die Paarl.
Volgens Fijnland se aandeelhouers is die leefstyllandgoed “in ‘n vroeë stadium” en tans is daar nog geen ontwikkelingsregte nie. Die eiendom val wel binne die Drakenstein-munisipaliteit se sogenaamde “urban edge”, maar het nog geen finale uitlegte of tydlyne nie – slegs ‘n droom en visie vir die toekoms.
Paul de Villiers, saam met sy niggies die vyfde geslag van die De Villiers-familie wat op Landskroon geboer het, het aan Landbouweekblad vertel dit was ‘n moeilike besluit om die familieplaas te verkoop.
Volgens hom is die wynbedryf “nie meer wat dit was toe ons [die De Villiers-familie] destyds begin het nie”, het hy aan Landbouweekblad gesê. “Die speelveld het met die verloop van jare baie verander, met baie meer handelsmerke en etikette op die mark. Dit was dus nie meer so maklik nie.”
Volgens De Villiers het hulle die afgelope paar jaar gereeld navrae ontvang oor beskikbare wynplase in die Suider-Agter-Paarl-omgewing vir ontwikkelingsdoeleindes, en die De Villiers-familie het uitendelik besluit om hul grond aan Fijnland te verkoop.
• Die berig het oorspronklik in Standard se susterskoerant Paarl Post verskyn. – Jana Scheepers





