Breedevalleiers kan die slangseisoen vir eers groet en hulself reg maak vir kouer maande.Foto: Silverfox Snake Rescues

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Die slangseisoen in Worcester was glibberig, giftig en groot, maar staan vir eers einde se kant toe soos die kouer maande hul kop begin uitsteek.

André du Preez van Silverfox Rescues in Worcester het in ’n Facebook-plasing gedeel dat dié organisasie die afgelope somer altesaam 232 slange gered het, waarvan 123 slange dodelik was, wat 87 Kaapse kobras, 27 pofadders, en nege boomslange ingesluit het, en dat Worcester-Wes en Panorama ’n groot aantal van dié wegkruipers gehuisves het.

In die “effens giftige” groep is daar 17 gered, insluitend die redlipherald, gevlekte skaapsteker, harlekyn, en die Kaapse koraalslang.

In die nie-giftige groep, is bruin huisslange, molslange, Karoo-sandslange, eiervreters en ’n slakvreter ook verwyder en hervestig.

Volgens Du Preez was daar ’n paar noue ontkomings met giftige slange, soos byvoorbeeld die slang wat uit ’n motor in Durbanstraat gered is terwyl vele nuuskierige mense die voorval dopgehou het.

Worcester-inwoners het ook vir Du Preez gebel nadat daar vir dae vreemde geluide snags in die huis gehoor is en die slang (dikwels kobra’s) ná vele raaiskote gewaar is.

Dié Worcesterse slangvanger het immers daarop klem gelê dat elke voorval gevaarlik bly, want dit kan iemand se dood veroorsaak.

Du Preez het ook aan Standard gesê dat hierdie slangseisoen ietwat besiger was as die vorige een.

’n Groot aantal honde – 30 – het ook gesterf nadat hulle doodgebyt is, maar die belangrikste, volgens Du Preez, is dat geen mense die afgelope somer beseer is nie.

Volgens hom is daar ’n paar voorsorgmaatreels wat getref kan word om dié glibberige boosdoeners weg te hou van huise, en dit sluit in om openinge onder deure onder een sentimeter te hou, en om ’n erf skoon te hou sodat dit nie muise en rotte lok wat slange jag nie.

Wanneer ’n slang gewaar word, is dit ook belangrik om nie die slang te probeer doodmaak nie, want dit sal dan bedreig voel en iemand aanval.

Dit is beter om ’n slangvanger te bel en oë op die slang te hou sodat die slang se wegkruipplek nie later ’n raaisel is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article