André du Preez van Silverfox Snake Rescues bied ’n praatjie oor slangveiligheid en -hantering aan.


As daar een ding is waarvoor Worcester bekend is, is dit dat slange (en soms ander gediertes) hulle in die somertyd in en om ons huise tuismaak.

André du Preez van Silverfox Snake Rescues in Worcester is ook dan die persoon wat jy in so geval op jou snelbel-lys wil hê.

Du Preez spesialiseer reeds bykans vier dekades in die redding en rehabilitasie van veral slange.

“Dit is maar ‘n passie. Hulle is baie interessante diere,” vertel hy.

Du Preez het in die vorige slangseisoen altesaam 302 slange in die Worcester-area gevang.

“Meer as 70% van dié slange was giftig. Dit sluit in kobras, pofadders en boomslange. Mense het nie altyd die nodige kennis om met slange te werk nie. Ek help graag.”

Du Preez lewer dié diens gratis en sê dat hy nie anders kan as om sy kennis aan te bied en hulp aan diegene in nood te verleen nie. Hy is wel baie dankbaar vir donasies en dit maak sy werk heelwat makliker.

“Ek wil lewens red. Dié van mense en die van reptiele. Brandstof is duur en ek is altyd bly en dankbaar as iemand ‘n donasie aanbied, maar weet wel nie almal is altyd in die posisie om dit te kan doen nie,” voeg hy by.

Hoe gemaak as jy ‘n slang in jou huis gewaar?

• Staan vir wyle stil en terwyl jy vir slang kyk beweeg terug.

• Geen slang val mense net aan nie. ‘n Veilige afstand om te handhaaf is ongeveer 2,5 m.

• As ’n slang in ’n vertrek is, maak die deur toe en sit ’n handdoek onder by die opening. Kobras seil graag deur klein spasies.

• Sê vir ander mense in die huis dat daar ’n slang in die kamer is.

• Maak ook alle ruite van buite af toe, dit keer dat ’n slang deur die venster ontsnap en iewers in die tuin beland.

• As jy vermoed dat daar slang in huis is, gooi meel by die openinge van deure en hou dit dop. Die slang sal ’n merk laat as dit daardeur seil. Soms merk ’n mens ’n vreemde reuk in die huis op en dit mag dalk ’n slang wees. Gevalle het al voorgekom waar ’n slang vir meer as ’n week in ’n huis was.

• Kobras skei ’n stink reuk af wanneer hulle bedreig voel. Wanneer mense slaap soek die slang dan ’n uitkomplek, dus kan vreemde skuif/skuurgeluide ook ’n slang wees.

In ’n noodgeval, bel André by 082 305 9209.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article