Die Clovers-krieketspan van Roodewal was verheug om ’n ruim skenking van sporttoerusting van Unchain the Plain te ontvang.Foto: Luciano du Toit


“Ek onthou nog hoe ons afrigter vir my en een van ons bestuurslede weggeloop het. Dit omdat ons te lank gesels het met mense wat ons van g’n kant af ken nie – absolute vreemdelinge.”

Só vertel Mario Marinus, bestuurslid van Clovers-krieketklub. Marinus en Denfred Cupido het in Desember 2023 in twee lede van Unchain The Plain tydens die wedstryd van die Stormers en die Bulle vasgeloop, met geen wete dat hierdie gesprek in iets kosbaars sal ontaard nie.

Unchain The Plain bestaan uit ’n groep mans en vroue wat sport- toerusting aan minderbevoorregte gemeenskappe skenk en waar sulke toerusting ’n werklike verskil in die lewe van seuns en meisies maak.

Clovers KK was op 26 Januarie die instelling wat die voorreg gekry het om baat te vind by die hartklop van hierdie rolspelers – mense wat glad nie vergoeding kry of vra vir wat hulle doen nie.

Tydens die besoek op 26 Januarie het Clovers se spelers ’n vriendskaplike wedstryd teen die manne van Unchain The Plain gespeel.

Na afloop van die wedstryd het die bestuur van Unchain The Plain die kriekettoerusting aan die bestuur van Clovers oorhandig. Die skenking bestaan uit kolwe, balle en paaltjies, wat hierdie krieketklub nou in ’n posisie stel om kinders ook te laat speel.

Tydens die oorhandiging is rugbyballe ook aan Marinus vir die rol wat hy in sy gemeenskap speel, geskenk.

Die bekende Danver Olsen was instrumenteel in hierdie gebeurtenis. Hy is die verteenwoordiger van Unchain The Plain in Worcester en vir hom was dit ’n plesier om sy arm te swaai tydens die wedstryd.

“Vir my is dit belangrik om lewens te verander, al is dit die lewe van een kind. Dit maak my gelukkig,” is die filosofie van Olsen.

Unchain the Plain sal altyd geseënd bly. Dis net mense met goeie harte wat hierdie soort werk doen en dis wat God van ons verlang,” het Cupido van Clovers laastens gesê.. Clovers speel hierdie Sondag (4 Februarie) ook teen Pro-Eagles in die halfeindstryd van die Burgemeester-vlakkiekrieket-kompetisie nadat hy Black Leopards verlede naweek verslaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article