Rochelle Schroeder (Hugo Naudé-museum/Jean Welz-galery se algemene assistent), Reginald Hartog (kunstenaar) en Anél O’neill het die uitstalling geniet. (Foto: Brümilda Swartbooi)


Meer as 50 kunsentoesiaste het verlede Woensdagaand (27 Maart) ’n kunsuitstalling by die Hugo Naudé-museum/Jean Welz-galery bygewoon.

Die doel van die uitstalling is om mense van Worcester en omliggende omgewings weer opgewonde te maak oor die skeppende kunste.

kunsuitstalling

Rochelle Schroeder (Hugo Naudé-museum/Jean Welz-galery se algemene assistent), Reginald Hartog (kunstenaar) en Anél O’neill het die uitstalling geniet. (Foto: Brümilda Swartbooi)
“Ons wil die gemeenskap by kuns betrek en van die mooi dinge in die lewe bewus maak – dinge wat ons soms, in ons gejaagde bestaan, miskyk of net nie tyd voor het nie,” sê die kurator van die galery, Anél O’neill.

Verskillende vorms van kuns soos onder meer skilderye en glaskuns van bykans 30 verskeie kunstenaars is die aand uitgestal.

“Hierdie uitstalling vier die talent van die plaaslike en omliggende kunstenaars wat direk en indirek in Hugo Naudé se voetspore volg en steeds die kultuur van kuns in ons pragtige omgewing lewend hou,” sê O’neill.

“Daar is bekendes in die kunswêreld wat hier uitstal – van mense soos David Reade, die glaskunstenaar, tot kunstenaars wat hul werk vandag die eerste keer in ’n kunsgalery vertoon, soos Reginald Hartog, een van die belowende jong talente,” sê O’neill.

Vanjaar is die 150ste herdenking van Hugo Naudé se geboorte. O’neill sê dit is juis hoekom vanjaar so spesiaal vir die kunsgalery is. “Die voorste gedeelte van die gebou is deur Hugo Naudé self ontwerp en in 1904 gebou en hy het ook hier gewoon.”

Mense wat die uitstalling misgeloop het, het darem nog tyd om die kuns te kom besigtig.

Die uitstalling is nog tot 7 Mei by die Hugo Naudé-museum/Jean Welz-galery in Russelstraat van 09:00 tot 12:00 te sien.

Vir meer inligting skakel die galery in sake-ure by 023 342 5802.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article