Vir die kwilt-liefhebber is die perfekte uitstalling in die Hugo Naudé-museum en Jean Welz-galery in Russellstraat nou aan die gang.
Die talentvolle Mari Claase se kleurvolle en verbeeldingryke stukke sal vir die volgende drie maande uitgestal word. Hierdie is haar eerste solo-uitstalling.
As kind het Mari altyd haar ouma en ma dopgehou terwyl hulle kreatiewe naaldwerk gedoen het. In 1990 het sy haar eerste klas by die Langeberg-laslapgilde bygewoon.
“En ek het niks geweet nie. Maar ek het altyd my eie kop gevolg; ek het nooit gekonformeer nie. Ses jaar later, in 1996, het ek aan my eerste nasionale kompetisie, die nasionale laslapfees, deelgeneem en ek het die derde plek ingeneem,” vertel sy tussen haar uitgestalde werke.
Die werke van al die ander deelnemers oor die jare heen maak deel uit van dit wat vir haar inspirasie bied.
“Natuurlik neem ek ook inspirasie uit my omgewing en die natuur. Elke kwilt het sy eie storie.”
Wanner die inspirasie of ’n nuwe idee vir ’n kwilt haar tref, skets sy dit eers uit.
“Ek skets eers die idee op ’n A4-blad uit om te kyk of dit gaan werk. Soms werk ek ook op een slag aan ses verskillende kwilte. Soms haak jy vas by een, dan werk jy solank aan ’n ander een.”
Mari gebruik hoofsaaklik ’n naaldwerkmasjien om haar kwilte te maak en dan doen sy die afrondings en fyner versierings met die hand. Vir die afgelope drie jaar is sy ook lid van die South African Fibre Art Group, waar met verskillende soorte materiaal gewerk word. Van hierdie stukke is ook by die uitstalling te sien.
Sy is ’n geakkrediteerde onderwyser en bied klasse op feeste aan. Mense wat daarin belangstel om te leer kwilt, kan deur middel van die museum vir groepklasse reël.
V Mari se werk is weeksdae van 09:00 tot 12:00 en van 13:00 tot 17:00 te sien.





