Hartroerende tonele het hulle op 13 Oktober by die Hexvallei Senior Sekondêre Skool in De Doorns afgespeel by ‘n emosionele gedenkdiens vir die twee 14-jarige leerders wie se lewe binne die bestek van twee weke tragies kortgeknip is.
Die De Doorns-gemeenskap en Hexvallei Senior Sekondêre Skool is verlede week die tweede keer in rou gedompel toe Fredrico Konstabel van die Stofland-informele nedersetting die aand van 8 Oktober oorlede is toe hy tydens sy skool se matriekafskeid onder ‘n vragmotor beland het.
LEES OOK: Seun (14) sterf in fratsongeluk by matriekafskeid toe hy onder vragmotor beland.
Die vragmotor het ‘n matriekpaartjie vervoer.
Die De Doorns-skoolgemeenskap is sowat twee weke vroeër – op 23 September – weer geruk toe Granam Adonis in Wilgerstraat, De Doorns, raakgery en later dood is toe hy vir donderweer geskrik en voor ‘n aankomende motor beland het.
Granam, of Dinkel, soos hy geliefd bekend gestaan het, se hartseer-grootmaakma, Denelle Muller, vertel dat sy en kollegas – kort nadat hul werksvervoer hulle ná werk afgelaai het – almal plat op die grond neergeval het toe harde donderweer in De Doorns weergalm het.
Muller sê toe sy uiteindelik tot verhaal kom, staan ‘n kind langs haar met die tyding dat Granam raakgery is.
Volgens Muller het sy so groot geskrik dat sy haar sak net daar neergegooi en haar na die ongelukstoneel gehaas het.
Sy sê toe sy op die toneel aankom, het Granam reeds behandeling in die kliniek ontvang.
Volgens haar het die dokter haar meegedeel Granam se hart het in die kort rukkie reeds twee keer opgehou klop.

Beserings was te erg
Muller sê mediese personeel het toe besluit om Granam na die Worcester-hospitaal oor te plaas.
“Ek het net so met my werksklere aan agter in die ambulans gespring en saamgery hospitaal toe. Granam was in ‘n koma.”
Sy sê by Worcester-hospitaal het ‘n dokter gesê Granam se beserings aan sy kop is so erg dat hy nie meer lank het om te leef nie.
Muller sê Granam het op niks wat sy in daardie stadium vir hom gesê het, gereageer nie.
“Ek het heeltyd by hom gesit en huil.
“Ek het die familie laat kom. Ons kerkmense het aanhoudend vir Granam gebid totdat hy oorlede is.”
Volgens Muller het haar oorlede ma, Hester, Granam in haar sorg geneem toe sy eie ma, Jacqueline Adonis, destyds oorlede is.
Hy was toe maar ‘n jaar oud. Jacqueline was Denelle se tante.
Sy sê sedert haar ma se dood het sy en haar broer, Francois Muller, hulle oor Granam ontferm.
“Hy het my Nannie genoem en vir Francois Boeta. Hy was my babatjie.”
Volgens Denelle sou Granam op 6 Desember as lidmaat in hul kerk voorgestel word.
“Ek het in Augustus reeds vir hom ‘n swart pak vir sy aanneming gekoop. Ons het besluit om hom in sy pak te begrawe.”
Granam se begrafnisdiens was op 4 Oktober.
Volgens Denelle was dit Granam se droom om eendag ‘n brandbestryder te word.






You must be logged in to post a comment.