Die Touwpark-rugbyklub, die voorlopers in die streek-uitdaagkompetisie, het Primrose Saterdag (3 Augustus) behoorlik ore aangesit toe Touws Primrose met 70-14 afgeransel het.

Primrose het die wedstryd begin en Touwpark het Primrose se verdediging onmiddellik beproef met sy aanvalle, maar Primrose het hom by die kantlyn uitgeboender.

Touwpark het egter die lynstaan gewen, sy agterlyn weggestuur en was eerste om punte aan te teken – netjies agter die doellyn.

Touwpark het onmiddellik ná die inskop weer gedruk en dié keer boonop verdoel (telling 12-0).

Ná die afskop het Primrose egter met mening teruggekom en die losskakel, Jowin Nel, het gaan druk. Hy het ook met die doelskop seker gemaak en Primrose het nader gekruip (telling 12-7).

Die wedstryd het interessant begin raak, maar dit was Touwpark wat die pas aangegee het, hoewel Primrose nie ’n tree teruggestaan het nie. Touwpark het egter steeds aangeval en met goeie samespel nog ’n verdoelde drie gedruk (telling 19-7 in die guns van Touwsrivier).

Touwpark was onkeerbaar en het nog ’n drie gedruk terwyl die telling vinnig aangerol met die telbord teen rustyd op 34-7 vir Touwpark.

Die voorlopers het vir die laaste 40 minute afgeskop en Primrose het probeer hardloop, maar Touwpark het geen ruimte toegelaat nie. Toe Primrose ’n fout maak, het Touwpark dit uitgebuit en weer gaan druk; doelskop oor (telling 41-7 vir Touwpark).

Primrose het egter weer teruggekom en Ronaldo Lukas (flank) het gedruk. Jowin Nel was in die kol met die doelskop (telling 41-14 vir Touwpark).

Ná die inskop het Touwpark die druk daar gehou en Primrose moes keer vir ’n vale. Touwpark het egter weer ’n strafskop gekry, wat suksesvol was (telling 45-14).

Touwpark het op al sy silinders gevuur en aanvalle begin met die een drie ná die ander.

Primrose het antwoorde gesoek wat daar nie was nie, want dit was net eenrigtingverkeer en dit was Touwpark.

Die eindfluitjie het uiteindelik geblaas met die telling op 70 punte teenoor 14 met Touwpark die wenner.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article