Breedevine Productions, ‘n agt maande oue produksiemaatskappy in Worcester, gaan teaterliefhebbers se voete onder hulle uitslaan met sy debuut-verhoogproduksie Stikstêr Queens, wat einde aanstaande maand (Augustus) in dié dorp op die planke gebring gaan word.
Hoewel die toneelstuk ernstige probleme takel – soos onder meer geweld teen vroue, onregverdigheid in die werksplek, drome wat nagestreef behoort te word en dat ‘n mens nie bang moet wees om kanse te waag nie – is dit deurtrek met komiese en romantiese oomblikke.
Tobias van Reenen (42), ‘n oud-onderwyser en eienaar van Breedevine Productions, het die toneelstuk geskryf en vervaardig. Hy is ook die regisseur.
“Stikstêr Queens is verlede jaar die eerste keer by die Charlie Toneelfees by die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres opgevoer en die mense was dol daaroor.”
Volgens Van Reenen handel Stikstêr Queens oor ‘n jong vrou, Zoey (die hoofkarakter), vertolk deur Jenay McPherson, wat in ‘n klereherstelwinkel werk. Zoey het die talent en vernuf om ‘n suksesvolle mode-ontwerper te wees. Dis haar grootste droom, maar sy glo nie in haarself nie.
Volgens van Reenen is daar diegene wat in Zoey glo en aanmoedig om daardie droom na te jaag. Andersyds is daar die antagoniste wat aanvanklik nie veel van Zoey dink nie. Sy verras hulle egter later.
Asof die antagoniste haar nie genoeg probleme besorg nie, is daar boonop die mode-boelie Sergio Klein, vertolk deur Maruwaan Alwyn.
Sergio sien neer op Zoey en dink hy is beter as sy. Hy is eintlik jaloers op haar. Alwyn vertolk ook die rol van die Boss-baas, Hendricks, in dieselfde toneelstuk.
Die res van Stikstêr Queens se rolverdeling sluit in Jenna van Heerden (Sofie; sy vertolk ook die rol van Marnay), Soheeca Boer (Antie Mavis) en Arné Bosman (Vinci).
Al die akteurs is van Worcester.
Van Reenen sê om die gehalte van die akteurs se spel ‘n hupstoot te gee, het hy onder andere die akteur Pedro Camara, wat die rol van Carlos in die Afrikaanse televisiesepie 7de Laan vertolk het, en Bradley le Roux, wat ook goeie kennis van toneelspel het, nadergetrek om hand by te sit.
“Hoewel die spelers nie almal professionele akteurs is nie, is ek baie beïndruk deur elkeen se toneelspel,” sê van Reenen.
Hy spog dat die produksie met klank en beligting van hoogstaande gehalte pronk.
Walking on Water, ‘n band van Worcester, en Team Gopal, bestaande uit die kletsrymer en digter Calvyn en Ilse Gopal, gaan ook in die toneelstuk optree.
Stikstêr Queens word op 21, 22 en 23 Augustus in die Kleinteater in Russellstraat, Worcester, opgevoer. Ligte verversings en fynproewer-koffie sal te koop wees.
• Besoek www.kaartjies.co.za of De Jagers vir besprekings.
Kaartjies kos R150 per persoon (kinders 9 jaar en ouer ingesluit). Die verrigtinge begin om 19:00.
Bel Van Reenen by 083 748 8410 vir enige navrae. – Enrico Claassen





